Agri Hour
'Georganiseerde landbou, goeie menseverhoudinge speel ‘n rol in jou sukses'─── ELSABÉ RICHARD 05:00 Mon, 05 Jul 2021
Die sukses van ‘n boerdery hang van verskeie faktore af.
Volgens Annalea van Niekerk, ‘n suksesvolle beesboer uit die Reitz-omgewing in die Vrystaat, is mense-verhoudinge en om aan te sluit by georganiseerde landbou net twee van die faktore wat kan bydra tot hoe suksesvol ‘n boerdery kan wees.
Sien onderstaande PODCAST
Van Niekerk benadruk dat mense-verhoudinge, veral met jou werkers, uiters belangrik is aangesien hulle ‘n kritieke deel van jou boerdery uitmaak.
Sy voeg by dat as werkgewer moet jy ‘n omgewing skep waar jou werkers gemaklik genoeg moet voel om jou te nader as hulle enige probleme het, “want hulle kyk so mooi na my besigheid… Jy kan net respek van ander mense kry as jy respek teenoor hulle ook wys.”
Wat georganiseerde landbou betref, moedig Van Niekerk boere aan om aan te sluit by hulle plaaslike landbou-organisasies. Dit, omdat georganiseerde landbou ‘n groot bate vir ‘n boer kan wees. Hier kan boere baie leer en kennis onder mekaar deel. Sy sê georganiseerde landbou-organisasies kan boere help in tye van nood, soos veldbrande, veiligheid en selfs droogte.
LEES: Jong beesboer praat oor uitdagings en haar passie vir die Sussex-ras
“Vir my om deel te wees van georganiseerde landbou is [amper] soos my fondament. Jy kry jou ondersteuning van jou medeboere. Daar ruil hulle raad [onder mekaar].”
Van Niekerk dien tans op haar plaaslike boerevereniging se bestuur en sê sy het so baie van haarself geleer en in die proses het dit ook haar selfvertroue verhoog.
Sy deel ook neem aan projekte in haar omgewing om nie net ander mense op te voed oor verskillende boerderye nie, maar ook om geleenthede te skep wat meer mense na die dorp sal lok om te help met die plaaslike ekonomie.
“Dit is baie belangrik om betrokke te wees by gemeenskapsprojekte, veral in ‘n klein gemeenskap. Klein dorpies en plattelandse dorpies het die boeregemeenskap nodig om daardie dorpies aan die gang te hou.”
OFM-nuus
