On Now
Weekdays 06:00 - 09:00
The Good Morning Breakfast Shandor, Margaret, John and Nadine
NEXT: 09:00 - 12:00 Mid-Morning Magic with Yolanda
Listen Live Streams

Agri Hour

Deel 1: Weerstand teen onkruiddoders moet bo-aan elke boer se prioriteitslys wees

───   ELSABÉ RICHARD 05:30 Mon, 26 Jul 2021

Deel 1: Weerstand teen onkruiddoders moet bo-aan elke boer se prioriteitslys wees | News Article
FOTO: SAGRAINMAG.CO.ZA

Weerstand teen onkruiddoders hou verskeie nadele vir gewasboere en die omgewing in.

Elriza Theron, bemarkings- en kommunikasiebestuurder van Croplife SA, sê boere se geldsake word ook op die lang termyn hierdeur geraak.

Sien onderstaande PODCAST

Theron vergelyk weerstand teen onkruiddoders met die konsep van wanneer mense weerstand teen antibiotika ontwikkel.

Sy maan daarom gewasprodusente om voorskrifte te lees en daarby te hou en die etikette van gewasbeskermingsprodukte te volg aangesien dit belangrike inligting soos veiligheidsmaatreëls bevat.


Só vind weerstand plaas

Weerstand is ‘n natuurlike proses, verduidelik Theron, maar dit kan wel bestuur word.

Wanneer weerstand plaasvind, is daar gewoonlik ‘n klein aantal onkruid in ‘n populasie wat natuurlik bestand is teen sekere onkruiddoders.

“So, gestel daar is 90% wat vatbaar is [vir die onkruiddoder], 5% wat natuurlik bestand is en 5% wat natuurlik semi-bestand is - as jy die onkruiddoder toedien, sal dit omtrent die hele bevolking beheer, behalwe dié wat reeds natuurlik bestand is teen die produk en dan ‘n klein aantal van dié wat semi-bestand is.

“Hierdie oorlewendes lei dan tot die volgende generasie onkruid waar daar nou ‘n verbastering tussen die weerstandige, semi-weerstandige en vatbare onkruid plaasvind, sowel as eiesoortige teling,” verduidelik Theron.

Sy sê ná die eerste seisoen vind daar ‘n effense verskuiwing na die meer weerstandiges in die bevolking plaas. En só herhaal die siklus homself totdat die weerstandige deel van die spesie groei totdat dit onbeheerbaar is.


Tekens van weerstand

Een van die tekens is dat die gewasprodusent agter sal kom dat die produk wat hy toedien, nie meer effektief is nie. Maar, Theron waarsku dat boere nie net dadelik moet aanneem dat weerstand plaasgevind het nie omdat daar verskeie redes kan wees vir die prestasie van ‘n produk.

“As jy agterkom die produk werk nie weer soos wat hy moet nie… en as jy weet jy het byvoorbeeld net op ‘n semi-beheer [produk] staat gemaak, of dieselfde produk, of produkte met dieselfde meganisme van werking binne dieselfde weerstandgroep jaar in en jaar uit gebruik, dan moet 'n mens begin bekommerd raak want dan is daar ’n hoë risiko vir weerstand-ontwikkeling.”

Theron verduidelik verder dat ander faktore wat bydra tot weerstand teen onkruiddoders, insluit hoë onkruidbesmetting sowel as swak beheer in vorige seisoene.

Bly ingeskakel op die Agri-Uur hierdie week vir deel twee van hierdie onderhoud waar Theron praat oor die verskeie nagevolge wat weerstand teen onkruiddoders vir gewasprodusente inhou.



OFM-nuus


@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.