Agri Hour
Skryf nou in vir die 2021 Sauvignon Blanc SA Top 10-kompetisie─── ELSABÉ RICHARD 05:00 Wed, 04 Aug 2021
Wynprodusente in Suid-Afrika word weer eens uitgenooi om in te skryf vir vanjaar se Sauvignon Blanc SA Top 10-kompetisie.
Hierdie kompetisie is die enigste in die land wat aan Sauvignon Blanc toegewy is.
Volgens Isabau Botha, Agri-Expo se korporatiewe kommunikasiebestuurder, is hulle op soek na die beste Sauvignon Blanc in Suid-Afrika, die land se gewildste wynkultivar.
Sien onderstaande PODCAST
Groot én klein wynprodusente, sowel as kelners, word aangemoedig om aanlyn vir dié besonderse kompetisie in te skryf.
Volgens ‘n verklaring, sê Sauvignon Blanc SA se voorsitter, RJ Botha, hierdie jaarlikse kompetisie speel “ 'n belangrike rol om die beeld van Sauvignon Blanc, die topverkoper-variëteit in die land, te bevorder".
“Die Top 10-kompetisie bied nie net aan produsente die geleentheid om hul wyne te meet teen ander Sauvignon Blanc-variëteite in die land nie, maar ook om vir uitblinkergehalte beloon te word met 'n Top 10-toekenning – dié toppunt van erkenning, wat uiters waardevol in die bemarkingswaarde van individuele wyne is. Ons is dankbaar vir die ondersteuning van ons platinumvennote FNB en EVER Solutions, wat hierdie gesaghebbende kompetisie moontlik maak.”
Botha deel verder dat inskrywings op Dinsdag 17 Augustus sluit, terwyl laat inskrywings tot Vrydag 20 Augustus aanvaar sal word.
“ ’n Paneel vooraanstaande wynkundiges sal die aanspraakmakers van Dinsdag 31 Augustus tot Donderdag 2 September 2021 by Uitkyk Landgoed in Stellenbosch beoordeel.
“Die beoordelaars span pasgemaakte tegnologie op tablette in wat in samewerking met Stellenbosch Universiteit ontwikkel is om die proses Covid-19-vriendelik, vinniger en meer akkuraat te maak, asook om addisionele data van wynprofiele en meer bruikbare kultivar-inligting vir toekomstige navorsing in te samel.
“Vanjaar se beoordelaarspaneel bestaan uit dr. Winifred Bowman, Kaapse Wynmeester en sameroeper van die paneel, Charles Hopkins, keldermeester van De Grendel, wynbeoordelaar en -skrywer Fiona McDonald, wynmaker Rudger van Wyk van Stark-Condé Wyne, Johann Fourie, hoofwynmaker van Benguela Cove, asook twee aspirantbeoordelaars.”
In September sal die gelukkige 20 finaliste aangekondig word, waarna die Top 10-wenners op Woensdag 13 Oktober 2021 bekendgemaak sal word tydens die Sauvignon Blanc SA Top 10-toekennings.
Word deel van gesprekke op sosiale media oor die #SauvignonBlancSATop10 en volg Sauvignon Blanc SA op Twitter as @SauvignonSA en op Facebook en Instagram as @sauvignonblancsa.
Vir meer inligting besoek www.sauvignonblanc.com.
OFM-nuus
