Agri Hour
Getal suiwelprodusente verminder met 73% die afgelope 14 jaar─── ELSABÉ RICHARD 05:00 Tue, 10 Aug 2021
In die laaste 14 jaar het suiwelprodusente in Suid-Afrika met sowat 73% afgeneem.
Dit, terwyl verwerker-getalle met 68% afgeneem het. Nico Fouché, hoof uitvoerende beampte van Melk SA, sê hierdie afname kan aan verskeie redes toegeskryf word.
Sien onderstaande PODCAST
Die afname in suiwelprodusente en –verwerkers is ‘n wêreldwye probleem wat nie hokgeslaan kan word nie, sê Fouché.
Redes vir hierdie afnames sluit onder meer in die toename in kostes sowel as nuwer tegnologie wat ontwikkel en bekendgestel word vir die bedryf.
Daarmee saam het die drastiese afname in beide produsente en verwerkers ook ‘n groot rimpeleffek op veral die ontvolking van die platteland en op sosiaal maatskaplike faktore, sê Fouché.
Hy verduidelik dat mededinging in die bedryf ook strawwer is, met besighede en boerderye wat al hoe groter word.
“Maar ek moet ook bysê dat daar van jou kleiner verwerkers en produsente is wat, al [melk hulle] sowat 70 of minder koeie, ook steeds winsgewend boer. So, dis nie ‘n kwessie dat as jy klein is dat jy nie winsgewend kan boer nie. Dit hang af hoe jy boer.”
LEES: Kleiner melkboerderye kry swaar
OFM-nuus het vroeër berig dat Ian van Niekerk, eienaar van Oakland Dairies in die Wes-Kaap, gesê het sowat ses kleinskaalse melkerye het verlede jaar hulle deure gesluit.
Van Niekerk het ook die belangrikheid om plaaslike melkboere te ondersteun benadruk om sodoende die geld wat hulle in hulle besighede belê het, terug te kan kry en hulle werkers se salarisse te kan betaal.
OFM-nuus
