On Now
Weekends 00:00 - 05:00
Early Mornings Oscar
NEXT: 05:00 - 06:00 Opstaan with Anny
Listen Live Streams

Agri Hour

Kleiner melkboerderye kry swaar

───   ELSABÉ RICHARD 05:00 Mon, 25 Jan 2021

Kleiner melkboerderye kry swaar | News Article

Kleinskaalse melkboerderye kry swaar in Suid-Afrika wat daartoe lei dat hierdie boere hulle hekke moet sluit.

Ian van Niekerk, eienaar van Oakland Dairies in die Wes-Kaap, sê sowat ses kleinskaalse melkerye het verlede jaar hulle deure gesluit. 

OFM-nuus se Elsabé Richard het met hom gepraat…

Sien onderstaande PODCAST

Van Niekerk benadruk die belangrikheid om plaaslike melkboere te ondersteun om sodoende die geld wat hulle in hulle besighede belê het, terug te kan kry en hulle werkers se salarisse betaal. Hy voeg verder by dat melk ‘n gesonde produk is en werk vir duisende Suid-Afrikaners skep.

Hy verduidelik dat kleiner melkboerderye swaarkry en uiteindelik hulle hekke sluit, terwyl groot melkboerderye nóg groter word en uiteindelik in mega-suiwelprodusente verander.

Van Niekerk sê groot melkerye melk sowat 1 000 koeie per dag wat meer as 35 000 liter melk produseer. Hy sê hierdie boere maak gebruik van tegnologie om te help met die gladde verloop van melkbedrywighede en het minder werkers nodig.

Kleiner boere aan die ander hand vind dit soms moeilik om tred te hou met tegnologie en nuwe masjiene wat gekoop moet word.

“Jy moet omtrent per dag [sowat] 800 beeste melk, anders is dit net nie meer betalend nie en die kapitale uitleg om by die tegnologie aan te pas is net verskriklik duur omdat ons Rand swak is en die toerusting moet ingevoer word van hoofsaaklik Europa af. Die klein outjies melk tot hulle net nie meer kan melk nie dan hou hulle net op want hulle omsette is net nie groot genoeg nie en dit het ‘n baie negatiewe effek op ons arbeidsmark,” sê Van Niekerk.

Daarmee saam sê Dawie Maree, hoof van inligting en bemarking by FNB Landbou, dat die Departement van Landbou, Grondhervorming en Landelike Ontwikkeling in 2017 'n studie gedoen het wat getoon het dat 60 000 arbeiders in die suiwelbedryf werk, en 'n verdere 40 000 in die res van die waardeketting wat suiwelprodukte vervaardig, vervoer en verkoop.

Maree het ook bygevoeg dat die department se syfers toon dat die bruto waarde van vars melkproduksie ongeveer R17,8 miljard per jaar is. Hy sê hierdie bedrag is 12% van die veesektor se bruto produksiewaarde (GVP) en 6% van die totale landbou se GVP.

Intussen sê Van Niekerk het die Covid-19 pandemie nie ‘n negatiewe uitwerking op die bedryf gehad nie soos meer mense gedurende die inperking die produk gekoop het om tuis hulle gunsteling melkdrankies te maak. Verder, gedurende die winter, het die gebruik ook toegeneem aangesien mense meer koffie en tee begin drink het. Alhoewel die bedryf nie pryse kon verhoog nie, sê Van Niekerk het dit steeds goed gegaan met die melkbedryf.

Van Niekerk moedig Suid-Afrikaners aan om plaaslike melkboere te ondersteun en nie ingevoerde melkprodukte te koop nie. “Ons kan nie altyd kompeteer met ingevoerde Ultra Heat Treatment (UHT) melk nie, want UHT melk word in die buiteland gesubsideër en dan kom [stort] hulle dit in Afrika. Maar elke keer as jy UHT melk koop dan gaan daardie R20.00 of R30.00 na ‘n besigheid buite Suid-Afrika. Daai geld bly nie in ons ekonomie nie. Dit kan nie na ons mense se salarisse toe gaan nie,” sluit Van Niekerk af.



OFM-nuus


@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.