Agri Hour
Boer se vrou praat oor wanpersepsies, voordele en nadele─── ELSABÉ RICHARD 05:00 Mon, 16 Aug 2021
Daar is verskeie voordele om elke dag die voorreg te hê om op ‘n plaas wakker te word.
Die natuur, voëls wat dwarsdeur die dag gehoor kan word, en geen verkeer om jou oor te bekommer nie.
Christelle van der Merwe, ‘n boer se vrou uit die Fauresmith-omgewing in die Vrystaat, sê daar is egter ook nadele en wanpersepsies.
Sien onderstaande PODCAST
Voordele
Behalwe die feit dat jy die voorreg het om in die natuur te wees op ‘n daaglikse basis, sê Van der Merwe sy geniet dit om saam met haar man te beplan wat hulle in die boerdery wil bereik. “Om daai planne te vat van die begin af, dit deur te voer en op die einde te sien wat jy bereik het - of dit is om ‘n nuwe oes te begin, of miskien ‘n nuwe been van die boerdery aan te pak, of net om reg te maak dit wat oud is en te verbeter."
Verder voeg sy by dat dit ‘n gevoel van vryheid is om op ‘n plaas te woon en dat hulle nie die verskillende Covid-19 inperkingsvlakke so erg ervaar het soos iemand wat byvoorbeeld in die stad woon nie.
Nog ‘n voordeel is dat “dit ‘n voorreg is om kinders op ‘n plaas groot te maak. Hulle [ontwikkel] ‘n breër kennis van die lewe.”
Nadele
“Ons is vreeslik uitgelewer aan goed waaroor ons geen beheer het nie. Byvoorbeeld die natuur. Ons het geen beheer oor die natuur nie maar ons is absoluut afhanklik van die natuur.
“Ons kan nie sê wanneer dit gaan reën nie. Ons kan nie sê of ons veilig gaan wees soos met die veldbrande wat hier was en alles vernietig het nie.
“Ons gaan deur droogtes en ons gaan deur vure en dit plaas baie spanning op die boerdery, op jou man en dan op jouself…
“En dan ander dinge waarop ons geen beheer het nie, is pryse. Die prys wat [verbruikers] in die winkel betaal is nie die prys wat die boer kry nie. So, ons kan nou hard werk, en dis werklik ‘n spanpoging tussen die boer, sy vrou en sy werkers, en ons gee ons beste. Ons lewer hierdie produk maar ons kan nie sê hoeveel ons vir daardie produk gaan kry nie,” verduidelik Van der Merwe.
Nóg ‘n nadeel is veiligheid. Maar, sê Van der Merwe, veiligheid is ‘n algemene probleem wat regoor Suid-Afrika ervaar word.
Wanpersepsies
Van die wanpersepsies van ‘n vrou wat op ‘n plaas woon, sê Van der Merwe, is dat mense dink dat vroue heeldag niks doen nie en dat baie mense wil weet, ‘Wat doen jy die heeldag?’
Van der Merwe sê daar is baie dinge om te doen op die plaas, en “[vroue] sit nie heeldag en koffie en tee drink nie”.
“Baie mense dink jy het nie ‘n beroep nie so jy dra nie [finansieel] by nie. Dis nie werklik so nie. Ons is deel van ‘n besigheid. Boerdery is ‘n baie vernuwende besigheid. Tegnologie word al meer en meer, ons bemarkingsplatforms verander en ons moet bybly.
“So, ons vroue op die plaas het ‘n werk. Ons word nie noodwendig betaal daarvoor nie, maar ons werk heeldag.
“Baie mense dink ook jy sien jou man baie. Planttyd en oestyd sien ons ons mans baie min. Partykeer praat jy nie eers ‘n sin met jou man nie,” sluit sy af.
OFM-nuus
