Agri Hour
Daling in SA wolmark toegeskryf aan versterking van die Rand─── ELSABÉ RICHARD 05:00 Fri, 03 Sep 2021
Die versterking van die Rand teenoor die vernaamste geldeenhede het vandeesweek grootliks bygedra tot die daling in die Suid-Afrikaanse wolmark.
Heinrich Victor, senior wolbemarker by OVK, sê die verswakking in die Australiese wolmark het ook bygedra tot die daling.
Sien onderstaande PODCAST
Victor sê egter dit blyk asof die Australiese wolmark wel besig is om te stabiliseer, wat 'n positiewe invloed op die Suid-Afrikaanse wolmark behoort te hê.
Hy deel verder dat daar besluit is om katalogus 4 met een week aan te skuif weens die lae volumes wol ontvang die afgelope tyd. Katalogusse 4 en 5 sal dan gelyktydig verkoop word op die 15de September.
Verder is wol ontvang in die makelaars se pakhuise hierdie week, 8.0% laer in vergelyking met die ooreenstemmende tydperk in die vorige seisoen.
Victor verduidelik dat een van die redes hiervoor is die laer ontvangs, wat die gevolg kan wees van die erge koue wat die afgelope weke ondervind is in groot produksiegebiede en skeertye wat dus aangepas moes word.
Luidens Victor het volhoubaar gesertifiseerde (RWS) goeie kwaliteit merinowol weer eens goeie aandag geniet op die veiling en tot gesonde kompetisie tussen kopers gelei.
Skakel gerus met OVK om u by te staan in die sertifiseringsproses.
Die volgende veiling is geskeduleer vir 15 September 2021.
OFM-nuus
