Agri Hour
Hier is van jou hoof landboustories op OFM─── ELSABÉ RICHARD 05:30 Fri, 01 Oct 2021
Ons kyk nou na jou week in die landboubedryf. OFM-nuus se Elsabé Richard lig nou die hoofstories op OFM vandeesweek uit...
Sien onderstaande PODCAST
Die twee groot veldbrande wat vandeesweek verwoesting in dele van die Noord-Kaap gesaai het is onder beheer gebring, maar brandbestrydingspanne en boere monitor die situasie. Volgens Nicol Jansen, president van Agri Noord-Kaap, het die eerste groot brand by Salt Lake ontstaan. Hy deel dat die sterk winde wat Maandag geheers het daartoe gelei het dat die vlamme tot by die N12 in 'n oostelike rigting versprei. Die tweede veldbrand het langs die Schmidtsdrift en Kimberley-pad ontstaan en het na onder meer Langberg en Magersfontein versprei, waarna dit na die N8 tussen Kimberley en Bloemfontein versprei het. Jansen sê voorlopige ramings toon dat ongeveer 100 000 hektaar weiding in dié veldbrande vernietig is. Jansen sê die afgelope twee maande se veldbrande wat in die provinsie voorgekom het, is ongekend. Intussen sê Erich Stoch, voorsitter van die Noordwes Sambreel-brandbeskermingsvereniging, dat verskeie veldbrande ook die afgelope paar dae in die provinsie aangemeld is. Hy voeg verder by meer as 620 000 hektaar weiveld gedurende die tydperk 1 Mei tot 23 September vanjaar vernietig is.
Die Suid-Afrikaanse Weerdiens waarsku oor swaar reën met sterk wind wat tot Saterdag oorstromings kan veroorsaak oor van die oostelike dele van die land. Landbou.com berig swaar reën met sterk wind kan tot Saterdag oorstromings veroorsaak in die suide van KwaZulu-Natal, die Wildekus en die aangrensende binnelandse gebiede van die Oos-Kaap. Geen reën word egter vandeesweek vir die binneland van die Wes-Kaap, die westelike dele van die Noord-Kaap en die sentrale en oostelike dele van Limpopo voorspel nie. Daar is ’n 60%-kans op verspreide buie en ’n 30%-kans op los donderbuie vir die res van die land. Swaar donderstorms met hael en sterk wind is moontlik oor die oostelike helfte van die Noord-Kaap en die westelike helfte van die Vrystaat en Noordwes.
EN
Gebiede wat deur die onlangse verwoestende veldbrande geraak is, moet as rampgebiede verklaar word om geraakte boere te help. Dit is volgens Dr Frikkie Maré, landbou-ekonoom en senior dosent aan die Universiteit van die Vrystaat. Maré sê die regering moet dringend ingryp om voedselsekerheid te verseker. Dit, soos die brande op hierdie stadium te groot is vir privaat instansies om oral hulp aan te bied waar dit nodig is.
OFM-nuus
