Agri Hour
Nóg sprinkane in NK aangemeld─── ELSABÉ RICHARD 05:00 Tue, 09 Nov 2021

Daar is gedurende die afgelope naweek nóg bruinsprinkane in die Noord-Kaap aangemeld.
Dié keer in die De Aar-omgewing. Die provinsiale Departement van Landbou het vroeër aangekondig dat bruinsprinkane in onder meer die Springbok-omgewing opgemerk is.
Sien onderstaande PODCAST
Nicol Jansen, president van Agri Noord-Kaap, sê daar was ‘n paar uitdagings ten opsigte van die uitreik van pompe en gif van die departement se kant af, maar vertrou dat hierdie probleem gedurende die week uitgesorteer sal word.
“Dit is verskriklik belangrik dat hierdie plaag so gou as moontlik bestry en bestuur moet word terwyl hulle in die voetgangerstadium is. Wanneer die swerms oorgaan na die vlieër-stadium, dan raak dit al hoe moeiliker om beheer toe te pas, en die skade wat daardeur veroorsaak word, raak al hoe groter,” sê Jansen.
LEES: Publiek gevra om sprinkaanswerms aan te meld
OFM-nuus het verlede week berig dat sprinkaanswerms in die ZF Mgcawu- en die Pixley ka Keme-streke aangemeld is.
Zandisile Luphahla, woordvoerder van die departement, het in ‘n verklaring gesê dat swerms nou uitbreek as gevolg van die verandering in weerpatrone wat gelei het tot verhoogde reënval in droogtegeteisterde gebiede in die Noord-Kaap.
Die publiek word versoek om dadelik die departement in kennis te stel sodra hulle swerms sien.
Sprinkaanswerms kan ook by die volgende nommers aangemeld word: De Aar-depot - 053 631 3621 of Upington-depot - 082 457 2906.
OFM-nuus