On Now
Weekdays 19:00 - 22:00
OFM Nights Ashmund
Show Background
NEXT: 22:00 - 23:59 Overnight with OFM
Listen Live Streams

Agri Hour

Gapjaar in landbou beloof praktiese ondervinding en groot pret

───   ELSABÉ RICHARD 05:30 Wed, 10 Nov 2021

Gapjaar in landbou beloof praktiese ondervinding en groot pret | News Article

Suid-Afrikaanse skoolverlaters het nou die wonderlike geleentheid om ‘n gapjaar in landbou te neem.

Diegene wat kwalifiseer vir die program, kan daarna uitsien om praktiese ondervinding in landbou op te doen, terwyl hulle ook elke minuut daarvan sal geniet. 

Emmie Pietersen, direkteur van Peritum Agri-instituut, wat in samewerking met Reitz Landbou Akademie werk, sê aansoeke is tans oop en daar is plek vir 60 studente. 

Die gapjaar in landbou is ‘n gestruktureerde program wat skoolverlaters of jongmense ‘n breër blootstelling in landbou bied. Die program sal in Reitz plaasvind en studente sal in die Hoërskool Reitz se Lentehof-koshuis gehuisves word.

Daar is vier komponente tot die program. Die eerste komponent, verduidelik Pietersen, gaan oor selfontwikkeling. “[Studente] kan baatvind daarby deurdat hulle hulleself ontdek. Dis eintlik ‘n reis om jouself te ontdek, meer te leer oor jou persoonlikheid, oor jou aanslag in die lewe; oor hoe jy dinge benader en ‘n klomp vaardighede [aanleer waarmee jy jouself effektief kan] posisioneer in die lewe.”

Die tweede komponent van die gapjaar in landbou se program fokus op loopbaan voorbereiding. “Daar kan [studente] praktiese goed leer soos hoe om ‘n CV saam te stel en om jouself goed voor te berei vir ‘n onderhoud; hoe om in spanne te funksioneer,” sê Pietersen. Leerders sal ook ander praktiese kursusse doen soos noodhulp, sowel as ‘n wapen-vaardigheidshanteringskursus.

Die derde komponent bestaan uit kort leermodules waar studente gaan leer oor landbou: hoe om ‘n plaas te bestuur, diereproduksie, plantproduksie en vele ander landbou-gebaseerde modules. “Die landboublootstelling sluit ook, onder meer, ‘n skeerkursus, jaarlikse inentingsprogramme, produksiemodelle, stoetkeuring, grondprofielontleding, grond- en waterontledings, veilings, veldopname en karkasontleding in.”

Pietersen sê baie van die boere in die Reitz-omgewing het reeds aangebied dat studente op hulle plase mag kom kyk en leer hoe dinge gedoen word, terwyl hulle die plaaservaring kry.

“Die [vierde komponent van die program] is natuurlik die lekker daarvan. Daar is vier toere in [die program] ingegebou,” sê Pietersen verder.

Aansoeke sluit in Januarie 2022, waarna die program einde Februarie sal afskop.

Toelatingsvereistes vir die program sluit in dat die student vir Wiskunde, Afrikaans en Engels onderskeidelik ‘n 40%-slaagsyfer moet hê. “Verder kyk ons na jou belangstelling en ons kyk na hoekom jy die gapjaar wil doen. So, dis eintlik ‘n baie maklike aansoekprosedure vir studente wat belangstel,” sluit Pietersen af.

Besoek Petitum Agri-instituut se webtuiste vir meer inligting sowel as om aanlyn vir die program aansoek te doen, of stuur ‘n epos na marketing@peritumagri.com. 


Sien onderstaande PODCAST vir meer hieroor:



OFM-nuus

@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.