On Now
Weekdays 18:00 - 19:00
OFM Business Hour Olebogeng
NEXT: 19:00 - 23:00 OFM Nights with Ashmund
Listen Live Streams

Agri Hour

Fotojoernalis emosioneel terwyl sy oor #droogte-boek praat

───   ELSABÉ RICHARD 05:30 Wed, 17 Nov 2021

Fotojoernalis emosioneel terwyl sy oor #droogte-boek praat | News Article
'n Foto uit die boek: Lafenis in die droogte deur Marzahn Botha

“Die armoede en ellende wat deur die droogte veroorsaak is, vreet Kenhardt soos ’n wurm van binne af op.”

Dit is net een van die sielskuddende sinne uit die boek ‘Lafenis in die Droogte’, geskryf deur Marzahn Botha, ‘n vryskut-fotojoernalis en toergids. 

Dié fotoboek ontrafel die nagevolge van jare lange droogte op boere, hulle gesinne, plaaswerkers en die gemeenskap oor die algemeen. 

Sien onderstaande PODCAST

Die titel van die boek sou aanvanklik ‘Droog’ gewees het, maar Botha het gedurende haar reis na droogtegeteisterde gebiede in die Vrystaat, Noord-, Oos- en Wes-Kaap besef dat alhoewel die droogte verwoesting in hierdie omgewings gesaai het, is daar wel ‘n glinster in mense se oë en tekens van hoop in die natuur.

Met haar Jack Russell aan haar sy, het sy plaas vir plaas besoek om foto’s te neem en om na stories van hoop en hartseer te luister. Maar ten spyte al die droë landerye en leë beursies, het boere tog vertroue dat dinge sal verander.

“Ek dink lafenis is ook op ‘n manier vir my verteenwoordigend vir daar gaan altyd beskerming wees. Daar gaan altyd comfort wees. Daar gaan altyd iets wees wat mens tog buffer teen hierdie droogte, en dis jou God en dis jou geloof. Dis iets waarvan boere so baie het…” verduidelik Botha.

Die idee vir dié fotoboek het ontstaan toe Botha in Hawaii, ‘n waterryke eiland was. Sy is lief vir toer en het reeds hope foto’s en videomateriaal van droogtegebiede versamel. “Ek het gesien daar is ‘n behoefte. Ek het gedink hierdie droogte kan eintlik baie beter visueel saamgevat word. So, toe kom ek Junie 2019 terug [uit Hawaii] en toe begin ek aktief reis,” vertel sy.

Botha het Landbouweekblad genader en vertel van hierdie idee. So het sy die pad aangevat en skouer aan die wiel gesit om hierdie visie van ‘n boek ‘n realiteit te maak.

Die reis was nie maklik nie omdat dit emosioneel ook uitputtend was. Botha se - wat sy beskryf as - aandoenlikste en aangryplikste oomblik, was toe sy by ‘n boer met die naam Samuel Engelbrecht van Loerduin in die Boesmanland-streek gekuier het. “Ons stap saam met sy ma en pa op die plaas en die skapies lê in die kraal, hulle is swak... Die reënmeter is nie meer gekalibreer nie, daar was lank terug water in. Hulle hond Tjap-Tjap stap saam met ons. Die windpompe is omgestoot.

“En dan vat [Samuel] my so 300m verder. Ek laat toe die hommeltuig op in die lug gaan, en wat ek voor my sien op my selfoon se skerm is net hierdie graveyard van skape wat net daar lê. En jy kyk na jou skerm en jy kyk na die boer, en jy sien net hoe hy die trane wegvee…,” vertel Botha saggies terwyl sy dié prentjie weer herleef.

Sy deel dat sy ná elke kuier weer moes terugkeer huis toe om die storie te skryf en foto’s van haar kamera af te laai omdat die reis ‘n emosionele proses vir haar was.

Ten spyte van die harde werklikheid het boere steeds ‘n sin vir humor. Botha vertel hulle sal ‘n kwinkslag deel soos “die sagste ding in ‘n boer se liggaam moet sy tande wees”, en dis hierdie oomblikke sê sy wat die hartseer ontlont wat vir haar goud werd is.

‘Lafenis in die Droogte’ is uitgegee deur Landbouweekblad in samewerking met Sanlam en Agri SA. ‘n Groot gedeelte van die inkomste word aan Agri SA se droogterampfonds geskenk.

Die boek kan by Landbouweekblad se aanlyn winkel bestel word:  winkel.landbou.com.



OFM-nuus

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.