Arts
6 vrae: Boorling van Bloemfontein oor haar ‘allerlieflike’ debuutroman─── MORNÉ VAN ROOYEN 09:56 Sun, 14 May 2023

Ds. Elmarie Dercksen se roman, Die Gawe van Groen, het onlangs by LAPA verskyn, maar so lief is dié predikant sedert haar kinderdae in Bloemfontein vir skryf dat sy reeds hard aan die opvolg werk. Morné van Rooyen gesels met haar.
“Die gawe van groen is ’n allerlieflike roman, al is die agterplatteks byna niksseggend, net soos elke resensie van die boek hopelik sal wees [wat] die verwagte opsomming van die storie [betref],” skryf Annelise Erasmus in Rapport. “Hier is geheimsinnigheid ’n groot deel van die bekoring.”
Vir haar is die mooiste van dié roman “dat dit gevóél moet word. Die mooi sinne, woorde, beeld en gebeure weef die magiese web, wat die leser vasgevang hou, selfs wanneer dinge gruwelik raak, want selfs in die gruwel is daar lewe en betekenis.”
Die resensent Trisa Hugo sê dis “die beste erotika wat ek ooit gelees het. Óóit … Die erotiek in die boek is bedwelmend, subtiel en sensitief beskryf, sonder om ooit banaal te wees. Ek vermoed alle ander erotika gaan in die toekoms aan hierdie boek gemeet word. Dit is ’n belangrike aspek van die storie omdat dit Sati se ontwaking van haar seksualiteit en selfaktualisasie verteenwoordig.”
Die gawe van groen het onlangs by LAPA verskyn, maar Elmarie werk reeds hard aan ’n opvolg.
1. Vertel ons van jou grootwordjare in die Vrystaat.
Ek is ’n Vrystater. Ek het in Bloemfontein grootgeword, waar ek gebore is. Ek was in die Laerskool Bloemfontein, wat toe nog destyds J.B.M. Hertzog was, en ek was in die hoërskool in Oranje. Skool was vir my lekker. Bloemfontein was wonderlik, want ons het al die geleenthede gehad, binne ’n halfuur se ry.
2. Wat was die besef waartoe jy kleintyd oor meisies en seuns gekom het en hoe beïnvloed dit jou wêreldbeskouing/geloofsoortuigings?
Ek dink van kleins af dat die verskille tussen seuns en meisies oorbeklemtoon word. Daar word van seuns sekere dinge verwag en van meisies ander dinge. Ek glo ons is almal eers mense en ons het meer ooreenkomste as verskille, en as ons daai verskille so beklemtoon, dan maak ons sulke boksies waarin mense moet pas met hulle Godgegewe gawes en hulle eie aanvoeling oor hoe om hulle lewe te navigeer en hulle belangstellings. Daai boksies werk nie lekker nie. Navorsing wys dit is veral vir vroue, en vroue in Afrika, baie nadelig. Maar dit benadeel almal, dit benadeel die mans ook. Ons [loop dinge mis] wat God vir almal bedoel het.
3. Hoe vorm stories vertel deel van jou lewe en van jou prediking?
Ek het maar onlangs eers my obsessie oor stories aan myself erken! Ek dink ons is almal mal oor stories. Ek het musiek studeer daar by Kovsies, maar ek het altyd gevoel ek wil nie net vertolk nie; ek wil iets sê, iets oorspronkliks doen. Nou ja, ek dink stories werk in elk geval beter as “preek” en die narratief as ’n voertuig om ons wêreld te verstaan. Dit word natuurlik deur die teks, die Bybel, ook so gedoen, nè. Hulle [die Bybelskrywers] het ook vertel, en daarom beïnvloed dit ons lewe.
4. Watter pad moes jy loop tot die punt waar jy jou eerste roman in jou hand kon vashou? Die aanleiding daartoe en die skryfproses self …
Ek was nog altyd lief vir skryf. Ek het nog steeds notaboeke wat ek van kinderdae af vol geskryf het. Maar dit is ’n intimiderend storie, dit is maar moeilik, het ek gedink, het ek ondervind, om dit goed te doen. So, mens oefen, oefen, oefen maar.
Vir my het dit nog altyd te groot gevoel om ’n vollengte-roman te skryf. Sewe jaar gelede het ek besluit ek gaan nou nie ’n doktorsgraad skryf nie, want dit is ook ’n boek. Ek gaan daai selfde dissipline van die Meestersgraad vat en dan gaan ek begin om te vorm aan ’n roman.
Elmarie en haar man, ds. Thinus Britz, is medeleraars van die NG Gemeente Bloubergstrand aan Kaapstad se weskus.
Tot op daai stadium het nog net kortverhale en rubrieke en sulke goed geskryf; so mens moet maar baie leer en toespits en krities wees op jouself terwyl jy nog kreatief is ook. So, dit is ’n baie interessante proses en baie bevredigend.
Maar ja, dit het so twee jaar geneem van elke dag ’n bietjie skryf om deeltyds die eerste weergawe te voltooi. En toe’t dit nog so twee jaar geneem om die regte uitgewer te vind. Ek dink die wêreldwye statistiek sê een uit tienduisend manuskripte word gepubliseer. So mens moet dit maar probéér doen en glo dit gaan werk, en as dit nie werk nie, moet ’n mens oukei wees daarmee as dit nie gepubliseer word nie.
Dit moes maar uit, ek moes dit skryf … en om tevrede te wees daarmee of dit nou gepubliseer word of nie, maar ja, ek het aanhou soek [na die regte uitgewer] en gelukkig gevind. Nou skryf ek aan die opvolg, waaroor ek baie dankbaar is vir die geleentheid.
My skryfproses is maar [sy lag] ’n mengsel van bestuur, beplan, klippe neerlê, geraamte neerlê, geïnspireer voel en wees, alhoewel dit nou nie die begin en die einde van alles is nie. Gewoonlik is ek in my kop so gemotiveer dat ek op enige plek kan sit en skryf en kan afsluit van alles wat rondom my gebeur, so ek raak ’n bietjie verlore. My gesin kry swaar as ek so verlore raak …
5. Vertel ons kortliks waaroor jou roman handel – en die opvolg/tweede aflewering?
Die roman se naam is Die gawe van groen, en dit is ’n lekker mengsel van magiese realisme, avontuur, romantiek … Ek wil nie sê “fantasie” nie, want dit is nie fantasie nie, maar dit speel op ’n unieke plek en tyd af sodat die storie afgelewer kon word soos wat dit moes.
Dit gaan oor Satie wat ’n baie spesiale gawe het, die gawe van groen, en as gevolg van dié gawe moet gaan trou met ’n koning wat sy nie ken nie, en op ’n baie lang reis gaan om dit te doen. En dan gebeur daar allerhande goed: Sy leer haarself ken, sy leer ander mense ken, en die verlowing en die huwelik speel nie heeltemal uit soos sy verwag nie. Ek wou baie graag ’n storie skryf wat ’n mens laat omblaai. Ek glo dit [is die geval]. Mense gee vir my daai terugvoer, en daaroor is ek ook baie dankbaar.
Die opvolg … is dan dieselfde hoofkarakter en nog iemand anders spesiaals daarby wat ook ’n fokaliserende karakter gaan wees, iemand wat in die eerste boek ook belangrik is, en dan gaan die storie verder. Die eerste boek maak klaar met haar verlies aan onskuld, sy word groot, maar dis baie duidelik dat daar nog dinge kan gebeur. So, daarom die tweede.
Elmarie is van kleins af lief vir lees en skryf, om iets oorspronkliks te sê.
6. Waarom voel jy was dit nodig om die boek te skryf en wie sal daarby aanklank vind?
Die storie het my hart beetgepak en ek móés dit uitkry, en dit is natuurlik ’n manier om ’n mens se eie perspektief en jou eie seer en jou eie verhaal in ’n storie te spin. ’n Mens lewer kommentaar op issues, op sosiale dinge, maar dit is nie die belangrikste deel van ’n verhaal nie. ’n Verhaal is eerstens om mense te boei, om mense te laat ontsnap, om mense te laat vrae vra oor hulle eie lewe. En ek dink dit vra vrae oor liefde en verliefdheid en die rol van vroue én mans in die sisteme waarin ons leef, maar hopelik vra dit nie net vrae om jou te laat dink nie, dit is regtig vermaaklik en ek dink enigeen kan dit lees. My uitgewer is ’n man, en hy sê dit is nie net vir vroue bedoel nie.