Arts
Heidedal trots op hul eie kunssentrum, gerig op jongmense─── 09:47 Thu, 22 May 2025

Die Inni-Dal-sentrum is gestig om kunsgebaseerde onderrig en leer in Mangaung te verbeter.
Hul visie is dat alle kinders en jongmense in die Heidedal- en breër Mangaung-gemeenskappe toegang moet hê tot gehalteprogramme wat kunsgebaseerde metodologie gebruik om maniere te ondersoek om sosiale verhoudings te verstaan deur artistieke, kreatiewe en verkennende ontmoetings.
Dramafasiliteerder en stigter van die sentrum, Angelo Mockie, sluit by Yolanda Maartens aan in die OFM Kunsteklop om sy droom vir Inni-Dal te deel en om oor hul kompetisie te gesels.
“Hoewel dit ’n langtermynprojek is, is die doelwit om by te dra tot die herlewing van die skeppende kunste in ons plaaslike gemeenskappe, en jong talent provinsiaal en nasionaal ten toon te stel. Terwyl ons dit doen, hoop ons om holistiese ontwikkeling aan te moedig," sê ‘n opgewonde Mockie.
Geregistreer as ’n nie-winsgewende organisasie, dien Inni-Dal nie net as ’n onderrig- en leersentrum nie, maar ook as ’n netwerkplatform vir mense wat met kunsgebaseerde onderrig en leer werk of daarin belangstel. Dit is in November 2024 begin om by te dra tot die ontwikkeling van jongmense in en om Heidedal.
Inni-dal is verheug om die bekendstelling van die Heidedal Laerskole Kunskompetisie vir vanjaar aan te kondig. In vennootskap met die Angel-stigting word hierdie kompetisie vir hul vier plaaslike skole aangebied. Hierdie opwindende geleentheid is oop vir leerders in grade 4 tot 7 en sluit die volgende kategorieë in: Sang, Dans, Poësie en Storievertelling.
Vir meer inligting, besoek hul Facebook-blad.
OFM cg