Arts
Kunsuitstalling vir oudkunshoof van UV in Bloemfontein gehou─── ELSABÉ DE JAGER 14:45 Wed, 24 May 2023
“Ek teken nie soseer die landskap nie, maar ’n postapokaliptiese stilte,” beskryf die bekroonde kunstenaar Ben Botma sy eie werk.
David Griessel, mede-eienaar saam met Esré du Preez en Willemien Kruger van die Co-op-kunsgalery in Bloemfontein, het onlangs die kunsuitstalling “Resonance” aangekondig. Botma is die hoofkunstenaar.
Dié uitstalling sal ’n restrospektiewe vertoonvenster van kunswerke wees. Sestien vriende en studente van Ben Botma, oudhoof van die kunsdepartement aan die Universiteit van die Vrystaat, neem ook aan die uitstalling deel. Griessel en Kruger vorm deel van die groep.
Botma se werk beeld ontvolkte, beboude landskappe of leë ruimtes uit. Hy lewer so hy kommentaar op menslike optrede of handeling, sonder om dit direk uit te beeld.
Die uitstalling duur van 27 Mei tot 30 Junie in die Co-op-kunsgalery in Dan Pienaar.
