Arts
Scoops en skandes word deel van ’n NALN-kamer─── ELSABÉ DE JAGER 11:38 Thu, 01 Jun 2023

’n Mooi nooi en ’n moord, ’n waardevolle skildery, scoops en skandes asook die skryfvernuf van ’n meesterjoernalis het hul staan in boekvorm gekry op ’n rak in die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum (NALN).
Die uitgewer Naledi beskryf Hennie van Deventer, skrywer van die boek Elke dag ’n mooi nooi en ’n moord – ’n Joernaal van scoops en skandes, met rede as ’n “gebore en gesoute nuusmens”.
Van Deventer, voormalige redakteur van Volksblad (1980–1992), en uitvoerende hoof van koerante van Naspers, gesels geesdriftig oor sy nuutste boek.
NALN is die tuiste van die Volksbladkamer, waarin dié koerant se geskiedenis uitgebeeld word. Foto verskaf
Hy vertel in ’n e-pos aan Wyno Simes, kurator van NALN, die “Volksbladskildery”, wat die voorblad versier, is vir hom kosbaar. Danie Marais van Langebaan, voorheen ’n student aan die Vrystaatse Universiteit van Tegnologie, het dit geskilder.
‘Van Deventer se temas is talryk’
Die olieverfskildery was in 2004 met die eeufeesviering van Volksblad ’n jubileumgeskenk van Naspers aan die koerant en dit hang vandag in die voorportaal van Volksblad se nuwe tuiste in Westdene.
Die boek se titel, Elke dag ’n mooi nooi en ’n moord, is gebore uit ’n aanhaling van D.J. Opperman in sy digbundel Joernaal van Jorik. Die subtitel, ’n Joernaal van scoops en skandes, is ontleen aan die titel van Van Deventer se eerste boek, wat in 1992 by Tafelberg verskyn het.
Twaalf boeke het reeds uit Hennie van Deventer se pen. Foto verskaf
Van Deventer se “temas is talryk. Hy ryg die staaltjies en anekdotes in en verklap geheimpies uit redakteurskantore en raadsale” stel Naledi dié boek vol kinkels en humor aan die leser voor.
Simes sê NALN ontvang met groot dankbaarheid die eksemplaar wat Van Deventer geskenk het. “Finale vendusie”, een van die stories, handel juis oor Volksblad se oorgang van gedrukte tot digitale weergawe. Dit gee selfs meer betekenis aan die bewaring van hierdie boek in die kamer van die koerant.