Arts
Weird Wide Web – Modehuis skok met duur handdoekromp─── 15:13 Mon, 20 Nov 2023
"Balenciaga verkoop 'n handdoek wat om iemand se middel as 'n romp gedraai is vir $925,"
As jy ’n ekstra $925 (sowat R17 000) gehad het, wat sou jy daarmee doen? Heel waarskynlik dit gebruik vir ’n welverdiende vakansie en beslis nie vir ’n buitensporige duur handdoekromp nie.
Die handdoekromp is deel van die modehuis Balenciaga se Lente 24-versameling en kan aanlyn bestel word.
Die romp word van 100% katoen gemaak en mans en vroue kan die romp dra. Dit word vasgemaak met twee knope en het ’n verstelbare gordel aan die binnekant. Op die knielengte romp is die Balenciaga-handelsnaam geborduur.
Gebruikers het behoorlik op sosiale media daaroor uitgevaar omdat dit lyk soos ’n gewone handdoek wat jou baie minder sal kos.
Lees ook: Feel Good Friday – Mowgli word gered deur Daisy!
“Balenciaga verkoop ’n handdoek wat om iemand se middel as ’n romp gedraai is vir $925," sê een van die gebruikers.
“Wees asseblief ’n koning,”sê iemand.
"Dis belaglik! Wie sal soveel betaal vir ’n handdoekromp?” vra iemand anders.
Dit is nie die eerste keer dat Balenciaga gewone huishoudelike items gebruik en ten duurste verkoop nie. Verlede jaar het die maatskappy ’n handsak wat soos ’n asbliksak lyk vir $1 790 verkoop. Die kreatiewe direkteur Demna Gvasalia het dit uitgedink en erken dat hy lief is vir ’n modeskandaal, berig The Independent.
Die sakke is van kalfseer gemaak en is beskikbaar in verskeie kleure. Balenciaga se logo is subtiel aan die voorkant gedruk. Die vraag is hoeveel van die produkte verkoop die modehuis?