On Now
Weekdays 15:00 - 18:00
The Joyride Nico, Nikki, Kayla and JayBee
NEXT: 18:00 - 19:00 OFM Business Hour with Olebogeng
Listen Live Streams

Arts

Die FAK-jeugsimfonieorkes kom verdryf winterkoue op Vredefort

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 10:32 Thu, 13 Jun 2024

Die FAK-jeugsimfonieorkes kom verdryf winterkoue op Vredefort | News Article
Talentvolle orkesgroep gaan in honderd jaar oue klipkerk op Vredefort optree. Foto verskaf

“Hierdie konsert simboliseer ’n teenbeweging om die ryk tradisie van musiekonderrig op skool te laat herleef.”

Wanneer laas, indien ooit, het jy ’n simfonieorkes in lewende lywe gesien?

Vir baie is dit dalk ’n vae herinnering of ’n onvervulde droom om ’n orkesoptrede te beleef, maar inwoners van Vredefort en omstreke in die Noord-Vrystaat kry binnekort die geleentheid.

Ná die oorweldigend positiewe reaksie van die gemeenskap van Parys en omliggende dorpe op die FAK-jeugsimfonieorkes se konsert in Maart by Udolpho sal inwoners van Parys en Vredefort eersdaags weer die talentvolle orkesgroep hoor wanneer hulle in die honderd jaar oue klipkerk van die NG Gemeente Vredefort optree.

Die kamerorkes bestaan uit 21 toegewyde musikante van tussen tien en 21 jaar. Foto verskaf

Die aand, aangebied deur Erna Rademan, sal optredes deur haar talentvolle musiekstudente en lede van die publiek insluit. Een van die hoogtepunte sal ’n samewerkende weergawe van die geliefde “Sarie Marais” wees, wat die vreugde om gemeenskapsmusiek te maak ten toon stel.

Jaco van Staden. Foto verskaf

“My studente, sommige selfs net agt jaar oud, is dankbaar om die geleentheid te kry om saam met ’n regte simfonieorkes te speel,” sê Erna. “Hulle het baie hard geoefen, en hul opgewondenheid is tasbaar.”

Die FAK-jeugsimfonieorkes, wat in Oktober 2022 onder die dirigeerstokkie van Jaco van Staden gestig is, wil musiektalent ontgin en die beoefening van orkesmusiek onder die jeug bevorder. Die orkes se eerste amptelike konsert was op 24 Maart 2023 in die Voortrekkermonument.

Die FAK-jeugsimfonieorkes is in Oktober 2022 onder die dirigeerstokkie van Jaco van Staden gestig. Foto verskaf

“Ten spyte van sy kort bestaan, het die orkes reeds beduidende mylpale behaal,” vertel Erna, “insluitend optredes saam met die Akademiakoor en bekroonde liedjieskrywer Jannie du Toit”.

Erna betreur die groot afname die laaste jare by skole in musiekonderwys, wat minder geleenthede vir leerders beteken om instrumente te leer bespeel of in kore te sing.

“Hierdie konsert simboliseer ’n teenbeweging om die ryk tradisie van skoolgebaseerde musiekonderrig te laat herleef en in stand te hou,” sê Erna. “Goeie skoolkore het verdwyn, en duisende kinders op klein dorpies het nie meer die geleentheid om ’n instrument op skool by ’n hoogs gekwalifiseerde musiekonderwyser te leer nie. 

“Hierdie orkes is ’n baken van hoop wat die passie vir musiek weer laat opvlam in ons gemeenskappe.”

Die orkes het reeds beduidende mylpale behaal. Foto verskaf

Kaartjies vir die konsert is beskikbaar teen R120 vir volwassenes en R80 vir kinders. Konsertgangers kan ’n warm atmosfeer geniet danksy die sjerrie, koffie en warm sjokolade wat te koop sal wees. Dit kan aanlyn of kontant by die deur gekoop word.

OFM Nuus cg

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.