Arts
Vrystaat Kunstefees ‘gaan skitter van plaaslike talent’─── 08:34 Fri, 20 Jun 2025

Met minder as ’n maand totdat die fees afskop, is die Vrystaat Kunstefees trots om ongelooflike plaaslike talent uit te lig.
Van skrywers en regisseurs tot visuele kunstenaars en akteurs – vanjaar se program bars van kreatiwiteit van plaaslike kunstenaars wat hul stemme met trots op ’n nasionale verhoog laat hoor.
Feesgangers kan uitsien na ’n dinamiese program wat die talent, emosie en diepte van plaaslike stemme ten toon stel.
‘Die bruikbare idioot’ (Nico Luwes)
Dié nuutgeskrewe, satiriese klug spot met bestuurslede van ’n nuwe artistieke streeksraad. Ter viering van die UV Dramadepartement se sestigste verjaardag, vertolk bekende alumni, personeel en studente van die departement self hoofrolle.
Prof. Nico Luwes sê dit is vir hom wonderlik om ná 25 jaar steeds deel van die fees te wees.
Prof. Nico Luwes. Foto verskaf/Vrystaat Kunstefees
“Baie water het in die see geloop sedertdien en die klein fees het gegroei tot ’n multikulturele en multi-talige nasionale fees, met ook internasionale kunstenaars wat hier optree.
“Dat die fees steeds groei is te dankie aan vele bestuurslede en artistieke hoofde se visie en deursettingsvermoë oor die jare, gewaardeerde borge, kunstenaars wat hul uitsonderlike talente van oor die land deel en veral die gehore wat die fees getrou ondersteun. Daarvoor is ’n mens dankbaar.”
Illustrasie verskaf/Vrystaat Kunstefees
‘Verbode Gedagtes in Stereo’ (Jani Marais)
Jani Marais is ’n dosent, navorser en ’n vryskut teaterkunstenaar en in hierdie treffende verhoogstuk van haar dink sy oor dinge wat meeste mense ervaar maar nooit durf hardop sê nie.
Hierdie toneelstuk stel dit wat ons dink versus dit wat ons sê in sterk kontras, en bevraagteken of dit beter is om te sê wat in jou kop aangaan of om daardie gedagtes agter slot en grendel te hou.
‘The Semblance of Permanence’ (Jefferson J. Dirks-Korkee)
Hierdie teks, geïnspireer deur Martin Koboekae se “Of Cats and Dogs”, volg die lewens van James, ’n dramaturg, en Junior, ’n aspirerende akteur. Dit bevat komiese elemente wat slim in die kontemporêre teks geïntegreer is. Terwyl die saamwonende paartjie deur hul verhouding navigeer, wys dit ook die werklikhede van hoe liefde lyk en voel vir ’n homoseksuele paartjie in ’n heteroseksuele wêreld.
Die skrywer en regisseur, wat ’n UFS-alumnus is, is gereed om jou te laat dink oor kwessies soos patriargie, rassisme en seksisme.
Michael Garbett sê die plaaslike kunstenaars bring nie net hul werk nie – hulle bring hul waarheid, hul passie en die unieke stories van die Vrystaat.
“Dit is werk wat eg is, trefkrag het en diep weerklank vind. Ons is ongelooflik trots op die buitengewone plaaslike kunstenaars wat deel is van vanjaar se fees.”
Mediaverklaring cg