On Now
Weekdays 12:00 - 15:00
At Lunch Pulane
Show Background
NEXT: 15:00 - 18:00 The Joyride with Gerben
Listen Live Streams

Arts

Vryfees-debuut: Neem ’n droomreis met ‘Joshua na die Reën’

───   ELZETTE BOUCHER 07:00 Tue, 15 Jul 2025

Vryfees-debuut: Neem ’n droomreis met ‘Joshua na die Reën’ | News Article
Jacques de Villiers. Foto: Joshua na die Reën/Facebook

Een van Suid-Afrika se mees geliefde Afrikaanse musieksterre, ‘Joshua na die Reën’, tree vanjaar vir die eerste keer by die Vrystaat Kunstefees op – en hy bring sy volle band saam.

Gedagtes van vlug, is te sien op Donderdag, 17 Julie om 19:00 in die Creative Kilowatt Kopanong-ouditorium op die Universiteit van die Vrystaat se Bloemfontein-kampus. Die produksie neem die gehoor saam op reis. “Om weer daai plekkie, waar jy voel jy vlieg, in jou wakker te maak of jou te herinner daaraan,” vertel voorsanger Jacques de Villiers.

Hy meen die idee van vlug, daardie kinderlike droom om te vlieg, is ’n goeie aanknopingspunt om weer die magiese in mense wakker te maak. “Wat vir my die naaste aan daai ervaring of sensasie bring om te kan vlieg, is wanneer mens letterlik kan oorgee aan die lewe en kan liefhê met alles in jou.”

Hoewel De Villiers al meer as ’n dekade in die bedryf is, en al voorheen in Bloemfontein opgetree het, is hierdie sy debuut by die Vryfees, wat vanjaar vir die 25ste keer plaasvind. “Ek is sleg met admin,” lag hy. “Maar ek het nou vir die eerste keer ’n agent en toe sy sê kom ons doen Vryfees, het ek geweet dis tyd.”

“Ek sien veral uit na die koffie, Bloemfontein het regtig goeie koffie vir my, gemeng met lekker koue oggende,” skerts hy, maar meld ook op ’n meer ernstige noot dat hy uitsien na die gehoor. “Om mense in ’n ander mindset te sien, want elke deel van ons land sit jy tog in ’n sekere spasie in jou kop. Om musiek te kan maak vir mense in Bloemfontein in ’n fees-opset sal vir my nogal ’n lekker ervaring wees.”


Stephen Jonathan (kitaar), Marius van Wyk (baskitaar), Lardo de Beer (tromme) en Raziela Greyton (viool) is ook op die verhoog te sien. “Ek het ’n ongelooflike band wat saam met my reis. Ons het besluit ons maak nie musiek om iets te bewys nie, maar sodat ons dit geniet.

“Dan gebeur daar iets magical. Daai plek waar mens die gehoor op gelyke grond ontmoet, waar jy deel raak van dit en dis my hoop ook dat mense in die show sal sit en nie dink dis ’n show nie, maar meer soos ’n belewenis wat ons almal saam kan ervaar.”

OFM is ’n trotse mediaborg van die Vrystaat Kunstefees.

OFM cg


@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.