On Now
Weekdays 00:00 - 05:00
Early Mornings Oscar
Show Background
NEXT: 05:00 - 06:00 The Agri Hour with Anny
Listen Live Streams

Arts

Aanskou die mens: ’n Geskiedkundige reis deur klank en tyd

───   ELZETTE BOUCHER 13:43 Wed, 16 Jul 2025

Aanskou die mens: ’n Geskiedkundige reis deur klank en tyd | News Article
Foto: Vrystaat Kunstefees

Hoe klink ’n reis deur tyd – waar van die belangrikste oomblikke in die geskiedenis met woord en klank vasgevang word?

In Aanskou die mens word die orrel op ’n byderwetse manier ingespan om ’n unieke luisterervaring te skep. Die bekroonde orrelis Winand Grundling improviseer op die orrel aan die hand van Johann Nel se stemkunskuns, met teks deur Ernst Grundling.

Destydse brekende nuus oor spesifieke gebeurtenisse – soos die Hindenburg-lugramp, die atoombomaanval op Hirosjima, die maanlanding, Nelson Mandela se vrylating, die Springbokke se eerste Wêreldbeker-oorwinning, prinses Diana se dood, 9/11 en die Covid-19-pandemie – word verklank met musiek wat wissel van klassiek tot kontemporêr.

“Dis orrel in ’n heeltemal ander gewaad. Ons neem julle op ’n reis deur ’n honderd jaar se bekende nuusgebeure. En dan improviseer ek op die orrel,” sê Winand.

“Toe Ernst my die eerste keer genader het om deel van hierdie unieke en besondere produksie te wees, het hy gesê ek moet die nuusgebeure ‘breek’. Ek het aanvanklik gedink ek moet net die ‘koue feite’ oordra, maar toe ek die teks sien, het ek besef daar is ruimte vir emosionele belewing, inlewing en oordrag aan die gehoor. Dis ’n besonderse teks,” vertel Johann.

Die uitvoering is sterk gegrond in improvisasie – met ’n paar onverwagte draaie.

“Met die maanlanding was daar mos daardie kompetisie tussen Amerika en Rusland. Johann doen ’n dramatiese countdown, en dan val ek weg met Fly Me to the Moon,” verduidelik Winand.

Die program bied ’n goeie balans tussen swaar en ligter onderwerpe. “Daar is hoogtepunte soos Nelson Mandela se vrylating en die Springbokke se oorwinning. By Chris Barnard se hartoorplanting doen ek ’n paar klankeffekte op die orrel – soos ’n EKG-monitor.”

Wat dié produksie uniek maak, is die samewerking tussen stem en orrel.

“Die enigste ander keer waar ek stem saam met ’n orrel gebruik het, was toe ek 1 Korintiërs 13 moes voordra tydens ’n troue, en die orrelis het Largo in die agtergrond gespeel,” sê Johann.

Met dié stuk word die stigma van die “stoere” kerkorrel doelbewus gebreek.

“Daai stigma dat die kerkorrel hoogdrawend en prekerig is, word hier bevraagteken. Ek beskou die orrel as ’n simfonie-instrument,” sê Winand.

Die produksie is te sien op 16 Julie om 17:00 in die Creative Kilowatt Kopanong-ouditorium.

OFM is ’n trotse mediaborg van die Vrystaat Kunstefees.

OFM


@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.