Arts
Komedie met ’n knipoog én ’n traan─── ELZETTE BOUCHER 15:38 Wed, 16 Jul 2025

Marion Holm en Dean John Smith speel die verhoog vuurwarm in “Kry vir jou ’n Tux, Thomas”, wat op vanjaar se Vrystaat Kunstefees in Bloemfontein te sien is.
Die komedie handel oor Tessa Slabbert, ’n suksesvolle sakevrou, en haar assistent op die aand waarop sy ’n eerbewys moet ontvang. “Hy moet haar oortuig om te gaan, maar alles is nie wat dit blyk te wees nie. So, jy sal maar moet kyk om te sien of hy dit regkry om haar te laat gaan,” verduidelik Marion.
“Dis komedie, maar onthou: Partykeer het komedie ook so effense moment van ‘ag siestog’. So wees net voorbereid op daai deel van komedie ook,” sê sy met ’n knipoog.
Sy werk ook saam met Chris Vorster aan die produksie Gebou soos Steffi Graf. Hy het haar voorheen ondersteun met Marion Monroe. “Ons het nie meer geld om mekaar te betaal nie, toe’t ons besluit: kom ons doen ’n uitruil…” skerts sy.
“Hy het self die plasing op die verhoog gedoen, ontwerp, beligting – alles. Ek’t net vir hom notas gegee wat kan help met die karakters, ’n bietjie geskaaf. Ek kan nie eer of krediet vat nie. Maar wat ek wél kan sê, is: dis nou iets waarvoor ek ’n kaartjie sal koop. Ek is mal oor Chris se sin vir humor, hoe hy skryf en hoe hy speel.”
Chris Vorster in ‘Gebou soos Steffi Graf’. Foto: Vrystaat Kunstefees/Estiaan Terblanché Zita Filmz
Dean vertel om saam met Marion te werk is ’n fees. “Ek en Marion kom gelukkig baie lekker oor die weg.”
“Dis darem ’n groot uitdaging om nie vir hom te lag nie,” voeg Marion by.
“Elke keer as ek op die verhoog is saam met Marion, moet ek besef ek is nie nou bevoorreg genoeg om heel voor in ’n teater te sit en kyk nie – ek is ín die show, ek móét fokus.”
Hy sê die lekker van teater en om saam met iemand te werk wat net so passievol oor die kunste is, lê in die wedersydse vertroue tussen spelers. “Dis nie daai ding van: ek moet nou wonder, gaan Marion onthou nie? En sy hoef nie oor my te bekommer nie. Ek kan op die verhoog stap en heeltemal gemaklik voel, want ‘she’s got me, and I got her’.”
Dean is ook te sien in Vannie Wal, Af saam met Angelo Bergh. “Die karakter verskil baie van Thomas s’n. Dis ’n rou, narsistiese, lelike persoon – heeltemal die teenoorgestelde van my – maar dis lekker om so uitgedaag te word en net iets nuuts te probeer.
“Ek sal nie sonder toneelspeel kan gaan nie. Of jy nou televisie, film, multikamera of teater doen – dis op die ou einde van die dag dieselfde kern: jy moet die eerlikheid van ’n karakter vind. Daar’s verskillende maniere, ‘tips and tricks’, om dit vir die verskillende mediums aan te pas, maar die kern bly egtheid – die eerlikheid van die karakter.”
Oor die vooruitsigte vir die dramabedryf stem Marion saam daar is goeie talent, maar die vooruitsigte vir teater is ’n bekommernis. “Dit maak my effe bang. Almal wil by die huis wees en stroom of televisie kyk. Teater raak al hoe meer uitdagend. Mense is finansieel nie meer so goed daartoe in staat nie – dis ’n ekstra uitgawe.”
Sy beklemtoon hoe belangrik dit is dat mense volhou om die kunste te ondersteun – dit maak nie saak watter produksie jy bywoon nie. “Dis hoe ons teater aan die gang hou – al is dit ’n produksie wat die hoërskool aanbied vir ’n fondsinsameling.
“Dit gaan nie net oor die kaartjies wat verkoop is nie – dit gaan oor hoe dit my laat vóél, asof ek die moeite werd is. Die Vrystaat laat my altyd só voel.”
Op die kassie voel Marion dinge gaan van krag tot krag, veral met die nuwe jong talent wat na vore tree. “Jong mense het energie, geloof, is innoverend – en as hulle soos Dean is, wat ook hard werk en dissipline het, dan is die toekoms soos die Rosestad: pragtig.”
Speeltye:
- Kry vir jou ’n Tux, Thomas – kykNET Scaena-teater: 17 Julie om 09:30, 18 Julie om 13:30, 19 Julie om 17:30.
- Vannie Wal, Af – kykNET Albert Wessels-ouditorium: 17 Julie om 20:00, 18 Julie om 10:00, 19 Julie om 14:30.
- Gebou soos Steffi Graf – kykNET Albert Wessels-ouditorium: 17 Julie om 17:00, 18 Julie om 20:00, 19 Julie om 10:00.
OFM is ’n trotse mediaborg van die Vrystaat Kunstefees.
OFM cg