On Now
Weekdays 19:00 - 22:00
OFM Nights Ashmund
Show Background
NEXT: 22:00 - 23:59 Overnight with Oscar
Listen Live Streams

Arts

Vrystaat Kunstefees ontsluit dramaliefde vir nuwe geslag

───   ELZETTE BOUCHER 14:18 Thu, 17 Jul 2025

Vrystaat Kunstefees ontsluit dramaliefde vir nuwe geslag | News Article
Anke Meyer-Auld en Norman Doubell. Foto: OFM

Die Vrynge by die Vrystaat Kunstefees is bekend as platform vir ontluikende teaterlui en eksperimentele werk.

Een van die produksies op vanjaar se fees in Bloemfontein wat groot aftrek kry, is “Harte Bliksems”, ’n lawwe rom-com wat die avonture van Annamart en Andries volg op die Afrikaanse dating-app “Biltong-en-Bokkies”. Anke Meyer-Auld en Norman Doubell vertolk die rolle met regie deur De Beer Cloete.

Meyer-Auld het die teks geskryf, geïnspireer deur ’n advertensie op Instagram. Dié kort video het die idee laat ontstaan vir ’n verhoogproduksie oor ’n dating-app-konsep met Andries, ‘n romantikus, en Annamart, wat nog nooit haar eerste soen gehad het nie, se kronkelpad na liefde.

Sy is ook te sien as Prinses Petronella in die “Die Moedige Avonture van Prinses Petronella” en Doubell is een van die drie varkies in “Rooikappie en die drie varkies”.

Anke Meyer--Auld en Norman Doubell op die verhoog. Foto: Estiaan Terblanché/Zita Filmz

Deur die jare het die fees nie net ’n ruimte vir inspirasie en groei gebied nie, maar ook ’n stewige grondslag gelê vir ’n loopbaan in drama.

Meyer-Auld se band met die Vrystaat Kunstefees het begin as kind – toe sy en haar broer elke jaar saam met hul ma kinderproduksies gaan kyk het. Sedertdien is kinderproduksies ’n jaarlikse tradisie, al is haar broer nou sestien en sy twee-en-twintig. “Ons kom kyk nog steeds kinderteater – dit bly spesiaal.”

Met haar eerste jaar as student het sy egter van kyk na werk beweeg. “Ek het tegniese werk gedoen by die fees en besef watter groot platform dit vir Vrystaatse kunstenaars is.” 

Hierdie ervaring het haar nie net blootstelling gegee aan die wêreld agter die verhoog nie, maar haar passie vir teater verdiep. “Ek het versot geraak op die tegniese kant van teater.”

Die geleenthede wat die fees bied, is vir haar van onskatbare waarde. “Ek sou nie my eenvrouvertoning laas jaar kon doen as dit nie vir die Vrynge-platform was nie.” Sy sien dit as ’n noodsaaklike ruimte waar jong kunstenaars hulle werk kan wys en naam gevestig kry.

Vir Doubell het sy liefde vir teater ook begin met ’n kinderproduksie. “Ek het verlief geraak op teater toe ek klein was. My pa het ons altyd gebring om kinderproduksies te kyk. Ek onthou spesifiek ‘Heidi’ – dit was ongelooflik. Ek wou weet wat agter die verhoog aangaan.”

“My eerste jaar was ek net ’n gewone stage hand – niks fancy nie. Maar mense het begin raaksien jy werk hard, en dan ken hulle jou naam.” Hierdie blootstelling het tot verdere geleenthede gelei, iets wat hy toeskryf aan ’n eenvoudige beginsel: “As jy net jou alie lig en ’n bietjie werk, veral met mense te doen het by die Vrystaat Kunstefees, dan behoort jy iewers te kom. Hoe harder jy werk, hoe verder kom jy.”

Vertonings:

  • “Harte Bliksems” om 20:30 op 18 Julie in die Kunstetrust Repteater.
  • “Rooikappie en die drie varkies” om 15:00 op 18 Julie en om 09:00 op 19 Julie in die Kunstetrust Repteater.

OFM is ’n trotse mediaborg van die Vrystaat Kunstefees.

OFM Nuus/Elzette Boucher cg

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.