Arts
Atie Kamper al 21 jaar sinoniem met Vrystaat Kunstefees─── ZENANDE MPAME 11:01 Fri, 18 Jul 2025

Met kuns in haar bloed glo die Vrystaat Kunstefees se markbestuurder dit is in haar DNS om by die fees betrokke te wees.
Atie Kamper is al 21 jaar deel van die feesfamilie. Van haar vroeë jare agter die skerms in teaterproduksies tot met haar huidige rol as die bestuurder van die bruisende kunsmark het haar toewyding gehelp om aan die hart van die fees gestalte te gee.
Haar pad saam met die fees het in 2002 begin toe sy aan teaterproduksies gewerk het, en in 2011 het sy oorgeskakel na markbestuur.
“Wat my ná 20 jaar steeds inspireer, is óf jy nou ’n feesganger is óf iemand wat agter die skerms werk, dit is in jou bloed,” sê Kamper. “Dit is dieselfde as om ’n verpleegster of onderwyser te wees – dit moet in jou wees.
“Ek het kunstenaarsbloed. My hele familie bestaan uit kunstenaars en ek is dol daaroor. Ek hou van die opwinding en druk. Ek het agtergekom ek vaar goed onder druk.”
Die fees het goed gegroei tot in 2019, toe Covid-19 ’n groot terugslag vir die kunsmark was. Baie stalletjiehouers het nie teruggekeer nie en kon eenvoudig nie oorleef nie.
“Die grootste uitdaging was om die mark weer op te bou tot waar dit nou is. Vanjaar is die mark vir die eerste keer weer vol,” sê sy.
Die Vrystaat Kunstefees vier vanjaar sy 25ste bestaansjaar met ’n program wat 72 produksies insluit – 51 op die Hoofprogram, 18 op die Vrynge-program en drie interdissiplinêre projekte. Literatuur- en boekliefhebbers kan hulle verlekker in 21 boekbesprekings en agt paneelgesprekke.
“Ons grootste uitdaging agter die skerms is wanneer stalletjiehouers nie gelukkig is met waar hul stalletjies geleë is nie,” sê Kamper. “Die Callie Human is baie gewild – as ons drie gehad het, sou ons almal kon vul.
“Hulle (die stalletjiehouers) loop dikwels snags rond en kyk waar hulle dink die beste plek is, en dan wil hulle skuif – dit veroorsaak dan gapings waar hulle wegbeweeg het.”
Die fees is steeds aan die gang en eindig Saterdag (19/7) op die Bloemfonteinse kampus van die Universiteit van die Vrystaat.