On Now
Weekdays 09:00 - 12:00
Mid-Morning Magic Yolanda
Show Background
NEXT: 12:00 - 15:00 At Lunch with Pulane
Listen Live Streams

Arts

Die dieper boodskap agter Bloemfonteiner se treffende kunswerke

───   09:00 Tue, 03 Feb 2026

Die dieper boodskap agter Bloemfonteiner se treffende kunswerke | News Article
‘Indestructable Love’ deur Daniël Slabbert Botha in Louw Wepenerstraat 3. Foto verskaf

Daniël Slabbert Botha se kunswerk “Indestructable Love” vang die oog, maar neem ook harte gevange.

Yolanda Maartens van die OFM Kunsteklop moes net eenvoudig gaan uitvind wie is agter die kunswerk in Louw Wepenerstraat, Bloemfontein, en wat die betekenis daarvan is. 

Botha sluit by haar aan om te vertel waar sy liefde vir kuns ontstaan het en ook hoekom mense sy inspirasie is. 

Daar is kunstenaars wat binne die lyne verf, en dan is daar kunstenaars wat die lyne self herontwerp. Daniël Slabbert Botha is een van laasgenoemde. 

Die kunstenaar, gebore en getoë in Bloemfontein, se pad is nie een van reguit lyne nie, maar eerder ’n ryk tekstuur van ervarings, staal, kleur en ’n onblusbare skeppingsdrang.

Daniël se kreatiewe wortels lê diep in die Rosestad. Ná sy skooljare by die Hoërskool Sentraal het hy hom tot die beeldende kunste gewend aan die Vrystaat-technikon. Hoewel die lewe ander draaie geloop het en hy nie sy graad voltooi het nie, het die kuns hom nooit gelos nie.

Baie Bloemfonteiners sal hom dalk onthou uit die alternatiewe naglewe. Sy tyd by ikoniese plekke soos Mystic Boer, Oolong Lounge en Boudoir Bar was meer as net werk; dit was ’n leerskool in atmosfeer en visuele impak. 

Daniël Slabbert Botha se ‘Mix Table’. Foto verskaf

Hierdie aanvoeling vir ruimte het later oorgespoel na ’n suksesvolle loopbaan in grafiese ontwerp, biltong-winkels soos Carve in Mimosa Mall, en grootskaalse interieurprojekte.

Hoewel hy tans sy brood en botter in die konstruksiebedryf verdien, waar hy meesterlik met staal en hout werk, klop sy hart vir die skilderdoek.

In sy portretstudies in olieverf vertoon Daniël ’n fyn oog vir die nuanses van die menslike gesig, terwyl sy passie vir grootskaalse beeldhouwerk sy droom weerspieël om openbare kuns te skep wat ’n direkte dialoog met die verbyganger uitlok. 

‘Joy of the Lord’ deur Botha in Pres. Steynstraat 5. Foto verskaf

Hierdie kreatiwiteit spoel ook oor na sy unieke meubelstukke, waar estetika en funksionele bruikbaarheid harmonieus saamsmelt. 

Sy inspirasie kom uit ’n wye verskeidenheid bronne: mense met interessante voorkomste of eksentrieke persoonlikhede; kleure en patrone wat onverwags kreatiwiteit aanwakker; en soms lê die mooiste idees diep onder die oppervlak, in die seer van die siel.

Hy het ’n besondere liefde vir retro-materiale, insekte, blomme en selfs skrootwerwe, plekke waar verval en skoonheid mekaar ontmoet.

‘Worship is Life’. Foto verskaf

Elke kunstenaar het ’n “oomblik van waarheid”. Vir Daniël was dit in ’n pakhuis agter die ou treinstasie – ’n rou, eerlike ruimte wat sy nuwe tuiste geword het. Die aand van 8 November 2024 het hy ’n besliste keuse gemaak: Om sy kuns eerste te stel.

Met ’n eenvoudige graffiti-gebed teen die muur het hy sy ruimte aan die Here opgedra. Sedert daardie oomblik het die deure oopgegaan. Vandag skep hy met ’n nuwe vrymoedigheid, ondersteun deur kliënte wat sy unieke visie raaksien.

Daniël se kuns is nie net "mooi" nie; dit is eerlik. Of hy nou met die fynheid van 'n kwas werk of harde staal tem, daar is altyd ’n storie onder die oppervlak. Hy herinner ons daaraan dat dit nooit te laat is om jou passie voluit te leef nie.  Volg hom gerus by https://www.facebook.com/dievoetsoldaat

@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.