Arts
Albé Grobbelaar se diep spore in Bloemfontein en liefde vir mense en geskiedenis─── SUSAN MARÉ 17:00 Wed, 18 Feb 2026
Met Albé Grobbelaar se geboorte op Maandag 5 September 1955 op Heilbron in die Noord-Vrystaat was die wêreld in ’n oorgangsfase tussen die naoorlogse jare en die opkomende Koue Oorlog-spanning.
Op hierdie dag was daar spanning in Turkye terwyl die Egipties-Israeliese konflik tot ’n gesamentlike skietstilstand in die Gaza-strook gelei het ná ’n versoek deur die Verenigde Nasies. Ver weg van Turkye, Egipte en Israel was ds. Beyers Naudé nog rustig ’n predikant van die NG Gemeente Potchefstroom, wetend of onwetend dat hy eendag as ’n anti-apartheidstryder sou sterf.
Suid-Afrika was in September 1955 diep vasgevang in apartheid.
Terwyl Albé se ma hom op sy geboortedag in ’n kombersie toegewoel het wat sy waarskynlik by die destydse algemene handelaarswinkel John Pierce in Presidentstraat op Heilbron gekoop het, sou sy nooit kon vermoed nie dat dié seuntjie eendag diep spore in die uitsaai- en mediawêreld sou trap. En dat hy eendag met Artes-toekennings of ’n ATKV-mediaveertjie bekroon sou.
Sy het ook nie geweet dat hy saam met kollegas 30 jaar lank ’n leidende rol sou speel om Radio Oranje te begin en ’n skitterende radiostasie te help maak nie. Dit sou die grondslag lê vir die latere OFM waarna mense in Sentraal-Suid-Afrika graag luister.
Albé se kreatiwiteit en veelsydigheid ken geen grense nie. Sy merkwaardige curriculum vitae is boekdikte en sy rubriek, Historiese Almanak, is ’n lewenslange projek wat gebeurtenisse en mense uit die geskiedenis herroep en toelig.
Eerste, ewige liefde
OFM Nuus het met Albé gesels.
Daar is soveel vreugdes in sy loopbaan wat besaai was met wonderlike en onvergeetlike geleenthede om hom kreatief uit te leef, dat hy nie eintlik kan kies nie tussen uitsaai, skryf, TV-aanbieding, bestuur van ’n radiostasie, en klasgee in kommunikasiewetenskap aan Kovsies. Elke werk is uniek.
“Maar die radio – sy bly my eerste en ewige liefde!” Dis daarom nie vreemd om te hoor dat daar elf radio’s in sy huis is nie.

Groot geeste uit OFM se verlede is Manie Kitching, Christo Olivier en Albé Grobbelaar. Foto verskaf
Dit klink na “van die Kaap tot Kaïro”, maar in sy geval dalk van badkamer tot spens. Sy menswees is diep in die radiowese verweef.
Dit was ’n klein spannetjie wat vroeg in 1985 die nuwe streeksradio vir die Vrystaat, Noord-Kaap en Wes-Transvaal van die grond af en op die lug moes kry. Christo Olivier, deurwinterde uitsaaier en bestuurder, was die eerste hoof van Radio Oranje, vertel Albé.
Daar was ook ’n rits kollegas soos Bill Otto, advertensiebestuurder, Johan Dreyer vir bemarking en die eerste twee omroepers – Manie Kitching en Joleen du Plessis.
Bloeitydperk: Radio Oranje
Die heel eerste uitsending was op 1 Julie 1985. Soos wat die stasie ontwikkel het, het nuwe uitsaaiers en betrokkenes bygekom.
Dit was ’n bloeitydperk vir Radio Oranje met name soos Jaco de Wet, Olaf Brinkmann, Willem Botha, Ray Thomas, Annelie Lotriet, Reeva Schoeman, Eddie Goldberg, Vida Booysen, Mike Rostron, en Hennie Klopper. “Goue tye,” vertel Albé.
“Ek het in 1989 as hoof van Radio Oranje by Christo oorgeneem toe hy die SAUK se streekdirekteur in Bloemfontein geword het.” Die stasie is in 1996 geprivatiseer, en Albé se titel is na hoofbestuurder verander.
‘Allerwonderlikste groot dorp’
Ná sy aftrede in 2003 was hy tot in 2016 deel van die OFM-direksie. Die 30 jaar wat hy by Radio Oranje betrokke was, was ’n grootse ervaring.
Albé se liefde vir Bloemfontein en die Vrystaat is op sy mou vasgespeld. Geen wonder nie dat hy al so lank in sy geboorteprovinsie woon. Wat is vir hom so wonderlik van Bloemfontein?
“Die skrywer Etienne Leroux het jare gelede ’n wonderlike skets oor Bloemfontein geskryf waarin hy Bloemies een van die ‘goorste stede’ in die land noem, maar die allerwonderlikste ‘groot dorp’. Iets daarvan het vir my behoue gebly.
Historiese Almanak
Ná digby 50 jaar in ons ‘groot dorp’, kén ek die plek, kén ek die mense, en word my liefde vir Bloemies en my paar uithangplekke net groter.”
En dan is daar geskiedenis. Historiese Almanak. Hierdie nalatenskap en gewilde rubriek doen hy reeds sedert Februarie 1982.
Vir hom is dit ’n liefdeswerk wat hy soos wat die tyd vorentoe loop selfs nog meer geniet. Agter elk van die almanakke is ure se navorsing, en baie nagte van sy lewe is hieraan gewy.
‘’n Wêreldbiblioteek op jou lessenaar’
Eers het hy sy praatjies moeisaam op ’n tikmasjien uitgetokkel omdat dit nog nie rekenaartye was nie. Om van die afwesigheid van internet nie te praat nie.
Hy moes sy inligting moeisaam versamel in biblioteke en vanuit geskrewe papierbronne. Danksy die moderne tegnologie druk jy deesdae net ’n paar knoppies en jy het toegang tot alles en nog meer. ’n Wêreldbiblioteek op jou lessenaar.
Elke geskiedkundige feit van “Historiese Almanak” moet altyd geverifieer word. Dit gebeur byvoorbeeld dat ’n skip wat ’n eeu gelede gesink het teen die 1980’s toe Albé daaroor uitgesaai het, nog nie gevind is nie.
Splinternuwe spogproduk
Intussen het moderne tegnologie die skip opgespoor.
Albé het reeds drie boeke geskryf en is baie opgewonde oor sy nuwe boek, Historiese Almanak – Onthou jy Nog? wat pas by Marlene Malan se uitgewery in die Kaap, Turksvy Publikasies, verskyn het. Daar is baie hard aan die boek gewerk om van dit ’n spogproduk te maak.
Dit is sy derde boek naas ’n klompie “versamelbundels” waarvoor hy deur die jare hoofstukke gelewer het. Sy eerste boek getiteld Historiese Almanak is saamgestel uit sy eerste radiopraatjies in die vroeë 1980’s en die tweede boek in 2018 is ’n keur uit sy Storiesmous-koerantrubrieke vir Bloemfontein Courant.

Sy eerste boek getiteld Historiese Almanak is saamgestel uit sy eerste radiopraatjies in die vroeë 1980’s. Foto: Kakkerlak Boekhandelaars
In al die jare wat verby is, dink Albé dankbaar aan almal wat hom geïnspireer het in sy groeiproses en uitlewing as mediapersoon. Te veel name om op te noem, sê hy.
Hy dink tog sy heel eerste baas tussen 1980 en 1983 as jong omroeper by die SAUK in Seepunt is die man wat hom op sy spore geplaas het. “Ek het by hom, Johan Stemmet – nie die sanger nie – alles wat ek van uitsaai weet, geleer.
Baas Stemmet was bedonnerd, hy was super-streng, meedoënloos en die totale teenpool van ander mentors. By hom het ek op die harde manier geleer. Ek sal dit altyd onthou.”

Albé is baie opgewonde oor sy nuwe boek, Historiese Almanak – Onthou jy Nog? wat pas verskyn het. Foto: Netwerk24
Eenmaal ’n nuusman, altyd ’n nuusman. Albé is ’n lewenslange leser – ’n nuuskierige nuus-junkie en hy absorbeer daagliks verskeie plaaslike en internasionale nuusbronne.
Hy kyk graag televisiereekse van gesinsdramas tot ligte komediereekse en glo vas dit is belangrik om elke dag iewers kliphard te lag.
Hy was van kleins af versot op lees en boeke verslind. Die Trompies, Saartjies, Uile van Kranskop, en vele meer.
Gesinstyd is kosbaar
Hy was sowat tien jaar oud toe hy Heinz Günther Konzalik se Moedertjie Rusland gelees het. Sy liefde vir lees duur voort, selfs in sy ouer jare.
Gesinstyd is vir hom kosbaar. Hy en sy vrou het ses kinders, een dogter en vyf seuns tussen 24 en 43 jaar: “Ons dogter, Lizahn, is in Brighton in Engeland.
Een van die seuns, Marco, is in Beira in Mosambiek – hy en sy vrou trek binnekort na Dubai. Jaco is in Johannesburg en drie van my seuns is hier in Bloemfontein – Louis, Duard en Reinhardt. En … ek het ses, ja, sés kleindogters!”
Hy en sy vrou het ses kinders, een dogter en vyf seuns tussen 24 en 43 jaar. Foto verskaf
Albé beskryf homself as dankbaar, innig dankbaar. Hy mis wel soms (net sóms) die tyd toe sy hart, sy verstand én sy lyf 25 jaar oud was; nou is sy hart en verstand steeds 25, maar sy lyf is 70 …
Die beste raad wat hy ooit gekry het, is meer ’n slagspreuk.
Dit is eintlik twee sinnetjies en kom uit die fliek On the Waterfront waar Marlon Brando se karakter, Terry Malone, die volgende uitdrukking gebruik: “Do it to him before he does it to you.”
‘And remember, be careful out there!’
“Ek het dit effens verander, soos dit gebruik is deur daardie polisiesersant in die TV-reeks Hill Street Blues elke oggend voordat sy span polisiemanne die strate invaar: “Let’s do it to them before they do it to us.”
En dan het hy altyd bygevoeg: “And remember, be careful out there!” Dis ook gereeld Albé se raad aan sy kinders.
Sy raad vir mense in Suid-Afrika met al sy uitdagings en vir baie ’n stryd om oorlewing is om op die positiewe te fokus: “Soek na dit wat jou gelukkig maak. “Moenie jou afsonder van ander mense nie. ‘Mingle’! En bly beweeg, al is dit net stadig om die blok stap elke dag …”
Boekbekendstelling by Naln
Om sy nuwe boek bekend te stel is nou Albé se voorland. Die eerste hiervan is Donderdagaand (19/2) om 18:00 by Naln.
Bloemfonteiners wat die geleentheid in samewerking met Turksvy Publikasies wil bywoon, kan dit bevestig by vriendevannaln@gmail.com. Die gespreksleier is Gert Coetzee.
Die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Meuseum en Navorsingsentrum (Naln) is geleë op die h/v Charlotte Maxeke- en President Brandstraat langs die Ou Goewermentsgebou.
• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of whatsapp die OFM Nuus-lyn: 066 487 1427.

