Arts
‘Moses … geroep!’ binnekort in Bloemfontein─── 09:00 Mon, 02 Mar 2026
Dit volg die epiese Bybelse reis van Moses van sy wonderbaarlike redding as baba tussen die biesies tot sy grootwordjare as ’n prins in die paleis van Egipte en sy lewensveranderende ontmoeting met God.
Die uitvoering van Moses … Geroep! kom na Bloemfontein. Dit word aangebied deur die ATKV-tak Gemeenskapsteater en is 20 en 21 Maart op die planke.
Ebeth Wilson, uitvoerende vervaardiger en verhoogbestuurder, en Jaco Bezuidenhout, musiekregisseur, sluit by Yolanda Maartens aan by die OFM Kunsteklop om om oor die produksie te gesels.
Daar is verhale wat bloot vertel word, en dan is daar verhale wat jou murg en been tref. Hierdie Maart kry Bloemfontein die geleentheid om een van die ikoniese Bybelverhale op ’n splinternuwe manier in die Sand du Plessis-teater te beleef.
As jy hou van rou menslike drama gekombineer met geestelike diepte moet jy dit nie misloop nie.

Die akteurs van Moses … geroep! Foto verskaf
Brandende bos
Die produksie neem ons op die welbekende reis van Moses. Ons sien sy wonderbaarlike redding as baba tussen die biesies, sy weelderige grootwordjare as ’n prins van Egipte, en daardie lewensveranderende oomblik by die brandende bos waar sy hele identiteit verskuif.
Moenie dink dit is net nog ’n Sondagskool-storie nie. Hierdie produksie delf diep in die sielkunde van die karakters.
Twee broers
Wat hierdie verwerking so kragtig maak, is die fokus op die verhouding tussen Moses (Nic Beukes) en Ramses (CW Laten). Hulle word groot as broers, gebind deur lojaliteit, liefde en gedeelde mag.

Die verhaal delf in die sielkunde van die karakters. Foto verskaf
Peter Taljaard, regisseur, sê dit is ’n diep menslike verhaal. Ramses se weerstand is nie net blote wreedheid nie; dit is die vrees van ’n man wat sy broer, sy mag en sy beheer verloor.
Moses se keuse vir gehoorsaamheid is nie maklik nie, dit beteken hy moet draai teen die persoon wat hy as broer liefhet.
Skouspel
Gehore kan ’n produksie van hoogstaande gehalte verwag. Die verhaal kulmineer natuurlik in die dramatiese plae en die asemrowende skeiding van die Rooisee – ’n oomblik waar geloof uiteindelik oor vrees seëvier.
Die kernboodskap wat deur die hele stuk weerklink, is een van oorgawe: “U wil –nie myne nie.” Dit dwing elke toeskouer om te vra: “As God my roep, sal ek antwoord?”
Kom ondersteun plaaslike talent en laat jouself meevoer deur hierdie epiese vertelling van vryheid en roeping.
Wanneer: 20 en 21 Maart
Waar: Sand du Plessis-teater, Bloemfontein
Tyd: 19:00
Kaartjies: Beskikbaar by Webtickets of die Pacofs-besprekingskantoor.
OFM dg

