On Now
Weekdays 06:00 - 09:00
The Good Morning Breakfast Shandor, Margaret and John
Show Background
NEXT: 09:00 - 12:00 Mid-Morning Magic with Yolanda
Listen Live Streams

Arts

Vrystaatse Kunswedstrydvereniging vier eeufees in Bloemfontein

───   08:00 Tue, 01 Sep 2026

Vrystaatse Kunswedstrydvereniging vier eeufees in Bloemfontein | News Article

Die Vrystaatse Kunswedstrydvereniging (VKV) het sy eeufees met ’n gala-aand in Bloemfontein gevier.

Die VKV vier vanjaar ’n besondere mylpaal – ’n volle 100 jaar van kuns, kultuur en Afrikaans. Die eeufeesvieringe het op 13 Augustus in Bloemfontein ’n hoogtepunt bereik met ’n spesiale gala-aand wat die mense, musiek, voordrag en stories gevier het wat die VKV oor ’n eeu heen gevorm het.

Die vereniging is op 15 Julie 1926 tydens ’n vergadering in Bloemfontein gestig. Van die instansies wat by die stigting betrokke was, was die Ons Taal-vereniging onder voorsitterskap van dr. C.F. Visser, die Grey-Universiteitskollege, die Oranje-Vrouevereniging, die Vrystaatse Onderwysdepartement, die Afrikaanse Studentebond, die Nederlandse Verbond, die Oranje-Vrystaatse Onderwysvereniging en Die Voortrekkers.

Die eerste kunswedstryd is reeds in September 1928 aangebied, met vier afdelings – musiek, beeldende kuns, voordrag en woordkuns, en hande-arbeid. Teen 1931 het die kompetisie reeds sowat 2 000 kinders en volwassenes gelok – ’n vroeë aanduiding van die belangrike plek wat die VKV in die gemeenskap sou inneem.

VKV se spesiale toekenningsgeleentheid. Foto verskaf

Oor die afgelope eeu het die vereniging talle lewens aangeraak en verryk, en gehelp om van Bloemfontein ’n belangrike kultuur- en musiekstad te maak. Die VKV het oor die dekades gegroei tot deel van ’n groot nasionale taal-, kultuur- en musiekerfenis.

Die eeufeesviering bring ook ’n nuwe hoofstuk mee. Danré Strydom het ná haar termyn as voorsitter die leisels aan Luzanne Eigelaar oorhandig, wat as die nuwe voorsitter aangestel is.

Luzanne Eigelaar en Danre Strydom. Foto verskaf

Vir Eigelaar is dit ’n besonderse voorreg om aan die begin van die VKV se tweede eeu hierdie verantwoordelikheid te aanvaar. Sy aanvaar die voorsitterskap met groot dankbaarheid en diep respek vir almal wat voor haar gekom het, en sien uit na nuwe moontlikhede en vars idees.

“Mag ons nie net die VKV se geskiedenis bewaar nie, maar voortgaan om ’n vereniging te bou waarin mense welkom voel, jong talent raakgesien word en die kunste kan groei,” sê Eigelaar.

Die komitee van die VKV. Foto verskaf

Die VKV se eeufeesjaar is dus nie net ’n terugblik op ’n merkwaardige verlede nie, maar ook ’n viering van die toekoms van die kunste. Bloemfonteiners kan uitsien na ’n opwindende program van musiek, toneel en voordrag as deel van hierdie besondere honderdjarige nalatenskap.

Die VKV se spesiale toekennings vir 2026 en meer oor die vereniging se geskiedenis is beskikbaar op hul webwerf en Facebook-blad.

@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.