On Now
Weekdays 09:00 - 12:00
Mid-Morning Magic Yolanda
Show Background
NEXT: 12:00 - 15:00 At Lunch with Pulane
Listen Live Streams

Arts

Bloemfonteiners kan na van die mooiste arias en ensembles kom luister

───   08:00 Tue, 29 Sep 2026

Bloemfonteiners kan na van die mooiste arias en ensembles kom luister | News Article

As jy nog altyd gewonder het waar om met opera te begin, is Opera Highlights dalk die perfekte uitnodiging. Op 15 Oktober word die Odeion in Bloemfontein die verhoog vir van die mooiste arias en ensembles uit die wêreld van opera.

Die drie stemdosente van die Odeion School of Music – mezzosopraan Teresa de Wit, bariton Aubrey Lodewyk en tenoor Albertus Engelbrecht – span kragte saam met die pianis en stemafrigter Hans Potgieter vir ’n program wat hoofsaaklik op die romantiese operarepertoire fokus.

In ’n onderhoud met Yolanda Maartens op OFM Kunsteklop gesels Albertus Engelbrecht en Aubrey Lodewyk oor hierdie besondere konsert, die kunstenaars wat saam op die verhoog verskyn en waarom Opera Highlights ’n ideale geleentheid is vir iemand wat graag opera wil ontdek.

Die gehoor kan uitsien na bekende werke van komponiste soos Verdi, Bizet, Wagner, Saint-Saëns, Tsjaikofski en Korngold. Van die hoogtepunte sluit in die geliefde tenoor- en baritonduet ‘Dio che nell'alma infondere’ uit Verdi se Don Carlos, asook ‘Au fond du temple saint’ uit Bizet se The Pearl Fishers.

Daar is ook ruimte vir van opera se mees ikoniese arias, waaronder ‘Stride la vampa’ uit Il Trovatore en die immerherkenbare ‘Habanera’ uit Carmen. Bariton- en tenoorliefhebbers kan onder meer Wagner se O du mein holder Abendstern en Tsjaikofski se Kuda, kuda vi udalilis verwag.

Me. Teresa de Wit, dr Albertus Engelbrecht en Aubrey Lodewyk. Foto verskaf

Vir die vier kunstenaars is die geleentheid meer as net ’n konsert – dit bring die wêreld van opera nader aan die gehoor en wys terselfdertyd die besondere talent binne die Odeion School of Music.

Opera Highlights vind op 15 Oktober by die Odeion in Bloemfontein plaas. Kaartjies is beskikbaar op Quicket. sm

@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.