On Now
Weekdays 15:00 - 18:00
The Joyride Nico, Nikki and JayBee
Show Background
NEXT: 18:00 - 19:00 OFM Business Hour with Olebogeng
Listen Live Streams

Business

Regsake verteerbaar vir almal danksy Koffiewinkelprokureur van Potchefstroom

───   OLEBOGENG MOTSE 12:20 Tue, 09 Jan 2024

Regsake verteerbaar vir almal danksy Koffiewinkelprokureur van Potchefstroom | News Article
Francois Vorster is bekend as die Koffiewinkelprokureur. Foto verskaf

“Jy weet nie wat jy nie weet nie.”

Francois Vorster van Potchefstroom is ’n prokureur, gewese koffiewinkeleienaar en -brouer, wat sosiale media aangedurf het om regskennis en persoonlike geldsake vir almal toegankliker te maak.

Hy is bekend as die Koffiewinkelprokureur en spog met 51 000 volgelinge op TikTok. Sy potgooie is beskikbaar op die Francois Vorster Show op YouTube en oudiostroomplatforms.

Vorster het aan OFM Sakeuur gesê inligting oor regs- en persoonlike sake is vir ’n leek moeilik om te verstaan, al is dit aanlyn beskikbaar. Die meeste mense besef nie hulle het ’n probleem totdat hulle die inligting sien nie. Dit bring ons by die uitdrukking – jy weet nie wat jy nie weet nie.

Sy gewildheid op TikTok is ’n uitsonderlike prestasie as in ag geneem word dat hy sy prokureurspraktyk eers in 2022 begin het.

LEES OOK: Werkloosheid in Suid-Afrika: TikTok kan uitweg bied

Hoekom gebruik jy die naam Koffiewinkelprokureur?

Vorster het sy regstudie in 2005 voltooi en besluit om ’n onkonvensionele loopbaan te volg. Dit sluit in om in 2012 ’n koffiewinkel te koop en in 2013 sy eie koffiebone te rooster. In 2016, nou getroud met twee kinders, het hy besluit om regswese weer aan te durf. Hy het sy klerkskap gedoen, al sy raadseksamens geskryf en toe as prokureur begin werk.

Toe hy sy praktyk in 2021 begin het, het ’n vriend wat 'n koffiewinkel besit, vir Vorster ruimte gegee om van daar te praktiseer. Dit het gelei tot die naam Koffiewinkelprokureur.


TikTok – maak regsinligting toeganklik

Hy het begin kyk na sosiale media om sy praktyk te bemark. Hy het aanvanklik gedink TikTok is net vir jong mense, maar gou besef dat daar ook ouer mense op die sosialemediaplatform is.  

LEES OOK: Wat is die rol van sosiale media in werktuie op plase?

Lei die duisende volgelinge na kliëntenavrae?

“Beslis,” sê hy. Die praktyk word oorval met kommentaar, boodskappe en e-posse van volgelinge wat hulp soek. Ongelukkig kan Vorster nie die honderde navrae beantwoord nie, maar is hoopvol dat die inhoud wat hy plaas wel van hulp is.

Hoekom is TikTok so suksesvol?

Aspirant-inhoudskeppers moet onthou dat hoewel die meeste mense onmiddellike sukses soek, vind ’n groot aanhang mettertyd organies plaas. Die sleutel tot sukses is konsekwentheid, gereelde plasing van inhoud en bewusmaking.

OFM Sakeuur dg/cg



@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.