Business
Tiger Brands belê miljarde in groei─── 10:39 Thu, 26 Nov 2026
Die voedselvervaardiger Tiger Brands gaan sy vervaardigings- en verspreidingsvermoë in Suid-Afrika verder uitbrei terwyl hy daarna streef om voedsel meer bekostigbaar vir verbruikers te maak en sy mededingendheid te verbeter.
Die maatskappy het in die boekjaar tot einde September R1,7 miljard aan kapitaalprojekte bestee, waarvan sowat 73% vir uitbreiding aangewend is. Sy genormaliseerde omset het met 3,3% gestyg, terwyl verkoopsvolumes met 4,5% toegeneem en pryse met 1,2% gedaal het.
Uitvoerende hoof Tjaart Kruger sê die maatskappy is bewus van die toenemende druk waaronder huishoudings verkeer. Sy verbintenis tot die bekostigbaarheid van voedsel bly daarom ’n belangrike oorweging in die onderneming se groeistrategie en besluite oor toekomstige kapitaalbesteding.
“Ons resultate bevestig ons strategiese keuses terwyl ons ’n meer mededingende, doeltreffende en veerkragtige Tiger Brands bou en strategiese kapitaalbeleggings versnel om ons vervaardigingsvermoë in Suid-Afrika uit te brei.”
Graanafdeling presteer sterk
Die graanafdeling se bedryfswins het met 52,9% tot R1,1 miljard gestyg. Tiger Brands skryf dié prestasie toe aan onder meer ’n gunstiger samestelling van produkte wat verkoop is en groter doeltreffendheid by sy vervaardigingsaanlegte. Produkontwikkeling en belegging in produksievermoë bly prioriteite.
Die maal-en-bakkeryafdeling se bedryfswins het met 8,5% tot R826 miljoen toegeneem. Die ingebruikneming van die maatskappy se nuwe groot bakkery is weens vertragings met regulatoriese goedkeurings uitgestel tot die tweede helfte van die huidige boekjaar. Bestaande bedrywighede word nie hierdeur geraak nie.
Die eerste fase van die groot voedselverwerkingsaanleg in die Paarl in die Wes-Kaap is reeds in gebruik geneem. Die maatskappy verwag sy nuwe verspreidingsentrum in Gauteng sal teen einde September volgende jaar in bedryf wees.
‘Hoër brandstofpryse het ook tot groter kostedruk gelei’
Tiger Brands sê landwye protesoptrede het gedurende die tweede helfte van die boekjaar sy verkope deur die algemene handelsnetwerk ontwrig. Hoër brandstofpryse het ook tot groter kostedruk gelei, wat die maatskappy deur verbeterings aan sy vervoer- en verspreidingsbedrywighede probeer teenwerk het.
Die groep se bedryfswins het nietemin met 12,6% tot R4,3 miljard gestyg. Uitvoerinkomste het met 5,8% toegeneem. Die maatskappy verwag om gedurende die huidige boekjaar sy beoogde kostebesparings van R500 miljoen oor twee jaar ten volle te verwesenlik.
“Ons is nou toegespits op die volgende fase van volhoubare, winsgewende groei. Met ’n meer doelgerigte sakeportefeulje, ’n sterk balansstaat en gedissiplineerde kapitaaltoewysing is ons goed geplaas om in groeigeleenthede te belê,” sê Kruger.
Werksgeleenthede vir kleinskaalse boere
Tiger Brands het ook verdere vordering gemaak met sy volhoubaarheidsdoelwitte vir 2030. Die maatskappy het gedurende die afgelope boekjaar 1 218 werksgeleenthede in die kleinskaalse landbousektor geskep, terwyl meer as 114 000 mense deur sy voedselsekerheids- en voedingsprogramme ondersteun is.
Voedselvermorsing tydens produksie is reeds met 50% teenoor 2022-vlakke verminder. Die maatskappy het ook sy waterverbruikintensiteit met 15% verminder, terwyl sy direkte kweekhuisgasvrystellings en dié wat met aangekoopte energie verband hou, met 19% afgeneem het.
Tiger Brands het voorts R150 miljoen geskenk vir die stigting van ’n gemeenskapstrust ná die verkoop van Langeberg & Ashton Foods. Die trust besit ’n aandeel van 10% in die onderneming en sal gemeenskapsontwikkeling deur onder meer grond-, behuisings-, onderwys- en gesondheidsorgprojekte ondersteun.
OFM Nuus sm
• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Skakel of whatsapp die OFM Nuus-lyn by 066 487 1427.
