Central SA
Mynramp in Noord-Kaap eis lewens─── 12:22 Tue, 19 Apr 2022
Drie mynwerkers is dood in die Noord-Kaap nadat 'n tonnel, waarin hulle onwettig was, ingeval het.
Die polisie op Komaggas het die insident aan OFM-nuus bevestig. Intussen het 'n familielid, Joshua Mudzipuri, vertel dit het die naweek gebeur, glo by Nuttaboy-myn - 'n ou, uitgewerkte myn tussen Kleinzee en Komaggas.
Mudzipuri het die oorledenes as Zimbabwiërs uitgeken, en sê ander mynwerkers kon daarin slaag om die mans los te grawe en te bevry.
Drie werkers is later glo deur 'n plaaslike forensiese span dood verklaar. Ander mynwerkers was ook vasgekeer, maar is net beseer.
LEES MEER: Namakwa-mense getraumatiseerd nadat myntonnels intuimel
‘n Gemeenskapsleier van die Namas in die streek, Paulus Swartbooi, het ‘n beroep op die regering gedoen om mynbedrywighede in die gebied te wettig.
OFM-nuus/Isaac Cloete
