Central SA
Dirco se hande afgekap in ondersoek na ontvoerde boer─── BAMBATHA GIKO 15:42 Wed, 15 Feb 2023
Die Suid-Afrikaanse Departement van Internasionale Betrekkinge en Samewerking (Dirco) is bewus van die ontvoering van ’n 75-jarige oud-Vrystater in Suid-Amerika.
“Paraguay se wetstoepassingsagentskappe het die Suid-Afrikaanse ambassade in Argenitinië, onder wie Paraguay resorteer, in kennis gestel van die ontvoering,” sê Clayson Monyela, departementele woordvoerder.
Die ambassade is in aanraking met die ontvoerde Danie Coetzee se naasbestaandes as deel van konsulêre dienste. Hy en sy vrou, Martie, woon al 26 jaar in Suid-Amerika, waar hul dogter, Dané, gebore is.
'n Geheimsinnige, Marxistiese rebellegroep, die Gewapende Campesino-groep – bekend as die ACA – is 'n splintergroep van die Paraguayaanse Volksleër (EPP). Hulle eis 'n losprys van VS$300 000 (sowat R5,4 miljoen) vir die 75-jarige skoonpa van die Springbokke se skrumafrigter, Daan Human, ’n voormalige Cheetahs-hulpafrigter wat boer by Verkeerdevlei buite Bloemfontein.
LEES OOK: Rebellegroep ontvoer oud-Vrystater in Paraguay
Paraguay se grootste dagblad, ABC Color, beweer die rebellegroep het heel moontlik die verkeerde man ontvoer. Luidens gerugte was hul teiken veronderstel om Coetzee se welgestelde buurman te wees. Claus Escher is ’n gesiene sakeman in die plattelandse distrik Indepencia en die Coetzees se buurman.

“Ons hoop natuurlik dat die wetstoepassingsagentkappe en owerheid in Paraguay vinnig optree om (Coetzee op te spoor),” sê Monyela. “Ons is tevrede met die aandag wat hulle aan die saak skenk.”
Coetzee is Sondagaand 12 Februarie 2023 omstreeks 19:30 ontvoer terwyl hy oudergewoonte op ’n pad naby sy vark-en-pluimveeboerdery gewandel het, sowat 150 km suidoos van die hoofstad, Asunción. Hy het sy vrou gebel kort nadat hy ontvoer is om te sê van die losprys. Sy het nog nie weer van hom gehoor nie.

Monyela sê die departement se betrokkenheid is beperk tot konsulêre dienste aan die familie, "wat beteken dat ons hulle op die hoogte van sake hou".
Die kriminele ondersoek, die opvolg van leidrade en die opsporing van die oortreder(s), is afhanklik van wetstoepassers in Paraguay.
“Hulle sal ons inlig van enige verwikkelings in die saak,” sê Monyela, “maar vir nou weet ons net hy is ontvoer en die Paraguayaanse owerheid werk dag en nag om hom en die (vermeende ontvoerders) op te spoor."

Die kriminele ondersoekdirektoraat van die Suid-Amerikaanse land se nasionale polisie het Maandag ’n helikopter ingespan om beamptes in die soektog te help. “Ons kan nie oor besonderhede praat nie,” het genl. César Silguero, direkteur van die direktoraat, aan ABC Color gesê, “maar ons kan die versekering gee dat ons alles in ons vermoë doen om Coetzee lewend op te spoor.”
