Central SA
Riebeeckstad sukkel reeds 11 weke met water─── 14:46 Wed, 15 Mar 2023

Inwoners van Riebeeckstad op die Vrystaatse Goudveld is desperaat en kwaad oor die voortslepende waterkrisis.
Hulle gaan reeds elf weke gebuk onder wateronderbrekings, maar klagtes by die Matjhabeng-munisipaliteit val op dowe ore en geen verklaring word gegee nie. Hoogliggende dele ly die meeste wanneer waterpompe lang tye buite werking is weens beurtkrag.
“Weke sonder water is totaal onaanvaarbaar en druis in teen alle menseregte,” sê Marie van Rooyen, DA-raadslid van Mathjabeng. “Die DA sal aanhou om volhoubare dienslewering vir die inwoners te eis en te probeer verseker, asook om die munisipaliteit verantwoordbaar te hou teenoor die gemeenskap.”
Van Rooyen sê agterstande met groot infrastruktuurprojekte en die toenemende vraag na dienste van inwoners het daartoe gelei dat die plaaslike owerheid nie oplossings vir die probleem kan of wil vind nie.
“Die Balkfontein-waterpomp is steeds onklaar, maar niemand kan sê wanneer dit herstel sal word nie. Bloemwater het probeer om snags water te pomp om die De Erf-opgaardam te help, maar kan dit nie deurentyd doen nie weens moontlike skade en die instandhouding wat vereis word.”
‘Altesaam 56% van die water wat die munisipaliteit ontvang, gaan verlore weens lekkasies’
Die waterverliese en -tekorte benadeel duisende inwoners van Riebeeckstad. Van Rooyen sê volgens die Ouditeur-Generaal se 2020/21-verslag het waterverliese in Matjhabeng R323 miljoen beloop. “Altesaam 56% van die water wat die munisipaliteit ontvang, gaan verlore weens lekkasies, veel meer as die nasionale norm van 15–30%.”
Verouderende infrastruktuur, gebarste pype en koppelings sonder meters is van die grootste uitdagings. “Volgens ’n woordvoerder van Bloemwater skuld die munisipaliteit dié voorsiener R4,8 miljard in onbetaalde rekeninge,” sê van Rooyen.
“As geld korrek bestee word, kan daar ’n enorme verbetering wees in infrastruktuur en watervoorsiening aan inwoners. Belanghebbendes verkwalik mekaar, maar die krane bly leeg.”
Die DA doen ’n beroep op die munisipaliteit om water wat nie geld inbring nie, minder te maak, aandag te gee aan infrastruktuuropgraderings en watervoorsiening aan die gemeenskap te vernuwe.
“Watervoorsiening in munisipaliteite moet volhoubaar wees,” sê Van Rooyen.