On Now
Weekends 00:00 - 05:00
Early Mornings OFM
NEXT: 05:00 - 06:00 Opstaan with OFM
Listen Live Streams

Central SA

VF Plus sê daar is ‘twaalf leuens’ oor Afrikaans

───   14:30 Wed, 31 May 2023

VF Plus sê daar is ‘twaalf leuens’ oor Afrikaans | News Article

Dit is in belang van ál Suid-Afrika se tale dat Afrikaans gelyke behandeling ontvang, is die mening van dr. Pieter Mulder, voormalige leier van die VF Plus.

Hy het ’n uitnodiging aan die Kommissie vir die Bevordering en Beskerming van die Regte van Kulturele, Godsdienstige en Taalkundige gemeenskappe gerig om die Afrikaanse Taalmuseum en -monument te besoek.

Dr. Pieter Groenewald, leier van die VF Plus, saam met lede van Kommissie vir die Bevordering en Beskerming van die Regte van Kulturele, Godsdienstige en Taalkundige gemeenskappe by die Afrikaanse Taalmonument en -museum. FOTO: VF Plus/Facebook

In sy uitnodiging verwys hy na “twaalf leuens” oor Afrikaans en ander Suid-Afrikaanse tale:

1. Baie min mense in Suid-Afrika praat Afrikaans. Daarom is dit beter om na Engels oor te skakel.

“Verkeerd. Afrikaans, met 6,8 miljoen sprekers (14% van die bevolking), is die derde grootste taal in Suid-Afrika, naas Zoeloe se 11,5 miljoen (23%) en Xhosa se 8,1 miljoen (16%) sprekers. Engels (4,8 miljoen) word deur slegs 9,6% van Suid-Afrika se bevolking as moedertaal gebruik, volgens die 2011-sensus. Navorsing wys dat slegs 50% van Suid-Afrikaners Engels redelik verstaan. In die wêreld is daar meer as 7 000 tale. Afrikaans is onder die 120 grootste tale in die wêreld.”

2. President Nelson Mandela was ter wille van nasiebou ten gunste van die afskaffing van Afrikaans as amptelike taal.

“Verkeerd. Sy standpunt was presies die teenoorgestelde. In reaksie op anti-Afrikaanse standpunte het Mandela die volgende geskryf: "Tog is Afrikaans die taal van 'n aansienlike deel van ons land se swartes, en pogings om hulle van hul taal te ontneem, sal gevaarlik wees. Dit is ook die moedertaal van 95% van die Kleurlingbevolking, en word ook deur Indiërs gepraat. Selfs al praat net Afrikaners die taal, sou dit steeds onwys wees om daarmee weg te doen. Dit is die inherente reg van elke groep mense om sy taal sonder beperking te gebruik”.”

3. Afrikaans het nie ’n plek in Suid-Afrika nie omdat dit ’n “witmanstaal” is.

“Verkeerd. Die meerderheid Afrikaanssprekendes is nie wit nie. Volgens die 2011-sensus is net 2,7 miljoen van die 6,8 miljoen Afrikaanssprekendes wit. Bruin Afrikaanssprekendes is 50% (3,4 miljoen) en swart Afrikaanssprekendes 9% (602 100) met die res uit ander groepe.”

4. Omdat Afrikaans die taal van die onderdrukker was, is dit beter om Afrikaans af te skaf en na Engels oor te skakel.

“Engels was die taal waarin die wreedste onderdrukking, slawehandel en koloniale uitbuiting in Afrika plaasgevind het. Die Nazi-geskiedenis was in Duits gepleeg. Tog word Engels en Duits as tale nie vir hierdie verlede gestraf nie. Waarom vandag die meerderheid Afrikaanssprekendes, wat nie wit is nie en aan die ontvangkant van apartheid was, straf?”

5. Afrikaans hoort nie in Afrika nie want dit is nie ’n inheemse taal nie.

“As Afrikaans nie in Afrika ’n inheemse taal is nie, is die vraag waar in die wêreld is Afrikaans dan ’n inheemse taal? Afrikaans se wortels is Westers maar met sterk invloede van Asië (Maleisië) en Afrika. Behalwe dat Afrikaans na die Afrika-kontinent vernoem is, word dit nêrens anders in die wêreld gepraat nie. Hoe kan dit dan nie ’n inheemse taal in Suid-Afrika wees nie?”

6. Afrikaans is tegnies nie genoeg ontwikkel om as ’n akademiese- of universiteitstaal gebruik te kan word nie.

“Net vyf tale het in die 20ste eeu ontwikkel tot die hoogste akademiese vlak, naamlik Hebreeus, Katalaans, Indonesies, Hindi en Afrikaans. Daar is meer as 450 vakwoordeboeke en akademiese terminologielyste in Afrikaans ontwikkel vir byvoorbeeld die mediese-, rekenaar-, ruimte, en vele ander akademiese velde. Twee Suid-Afrikaanse universiteite bied nog enkele klasse in Afrikaans aan, terwyl Afrikaans as vak by Nederlandse, Poolse, Russiese, Amerikaanse, Belgiese, en vele ander universiteite aangebied word.

“Die internasionale erkenning van Afrikaans blyk uit die feit dat byvoorbeeld Microsoft, Google en Nokia Afrikaans as een van hulle keuse-tale aanbied.”

7. Dit is beter vir kinders om in Engels te studeer en nie in hul moedertaal nie.

“Onwaar. Internasionale navorsing bewys dat onderrig in jou moedertaal altyd die beste is. Die Chinese studeer in Chinees; die Duitsers in Duits en die Franse in Frans. Die Duitse ekonomie is die sterkste in Europa en hoewel min Chinese Engels praat of verstaan, is hulle wetenskaplik ver voor baie ander lande.

“Afrika is die enigste kontinent in die wêreld waar die meerderheid kinders nie in hul moedertaal onderrig word nie.

“ ’n 2006-navorsingsprojek deur die Verenigde Nasies se opvoedkundige, wetenskaplike en kulturele organisasie (Unesco) oor taalbeleid in 25 Afrikalande het bevind dat kinders in Afrika minstens ses jaar se gehalteonderrig in hul moedertaal én goeie onderrig in Engels, Frans of Portugees nodig het, voordat hulle met sukses kan oorskakel na onderrig in enige van hierdie tale.”

8. Alle swart akademici is gekant teen moedertaalonderrig

“Onwaar. In dr. Neville Alexander, akademikus van die Universiteit van Kaapstad wat 10 jaar op Robbeneiland saam met Nelson Mandela deurgebring het, se woorde: "An English-only, or even an English-mainly, policy necessarily condemns most people, and thus the country as a whole, to a permanent state of mediocrity, since people are unable to be spontaneous, creative and self-confident if they cannot use their first language”.”

9. Afrikaans word nêrens in die wêreld behalwe in Suid-Afrika verstaan nie.

“Naas Engels is Afrikaans die enigste Suid-Afrikaanse taal wat ook internasionaal verstaan word. In die res van die wêreld is daar 24 miljoen mense wat Afrikaans verstaan in byvoorbeeld lande soos Nederland, België en Suriname.”

10. Die voorstanders van Afrikaans is anti-Engels.

“Voorstanders van Afrikaans is nie anti-Engels nie. Engels is belangrik en maak baie deure oop – veral internasionaal. Daarom behoort Engels as vak deur studente tot op universiteitsvlak geneem te word. Afrikaanse studente wat in Afrikaans as onderrigtaal studeer het, doen baie goed in die buiteland waar hulle dikwels in Engels moet werk. Navorsing bewys dat studente beter vaar as hulle ’n tweede taal en moeilike begrippe in hulle moedertaal, byvoorbeeld Afrikaans, aanleer. Daar is ’n groot verskil tussen Engels bemeester as taal teenoor Engels as enigste onderrigtaal.”

11. ’n Taal kan nie tot niet gaan nie. Daarom sal Afrikaans en die ander Afrikatale in Suid-Afrika nie tot niet gaan nie.

“Onwaar. Baie tale het reeds uitgesterf. Daar is 1 500 tale wat met minder as 1 000 mense wat dit praat, op die rand van uitsterf staan. Afrikaans is ’n Germaanse taal. Van die 22 Germaanse tale het 10 reeds verdwyn. Tale kan en gaan dus tot niet.”

12. Solank ’n taal nog gepraat word, kan dit nie tot niet gaan nie.

“As 'n taal nie meer in die hof, in die parlement, in die skool, in die universiteite en in die ekonomie gepraat word nie, verloor dit status en is daar min aansporing vir ouers om hul kinders daarin groot te maak. Binne drie geslagte kan so ’n taal tot niet wees.

“ ’n Taal begin dus tot niet gaan as hy sy amptelike of hoë taalfunksies verloor. Oksitaans is 'n taal wat baie gewild was en deur meer as 14 miljoen mense in die suide van Frankryk gepraat is. Nadat die Franse regering besluit het om Frans en nie Oksitaans die enigste amptelike taal te maak, het Oksitaans vinnig agteruit gegaan. Dieselfde het met Wallies, Skots-Gaelies en ander tale gebeur wat hul status verloor het.

“Dit is in die belang van al Suid-Afrika se tale dat Afrikaans sy stryd om gelyke behandeling voortsit,” beklemtoon Mulder.

OFM Nuus


@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.