Central SA
Bloemfonteinse meisie se lewe dan met blomme, balonne gevier─── CHARNÉ VAN DER MERWE 13:45 Fri, 30 May 2025

Die lewe van ’n Bloemfonteinse meisie word Woensdag (6/4) gevier met ballonne en blomme – net so kleurryk en vol lewe soos wat sy was.
Jana Hough (6) is Donderdag oorlede weens komplikasies wat verband hou met griep, sê haar ma, Aneldi Hough, aan OFM Nuus.
Jana het Maandag begin siek voel, waarna sy Woensdag vanaf ’n ander hospitaal na die Bloemfonteinse MediClinic oorgeplaas is.
“Dit het alles so vinnig gebeur – binne 24 uur,” sê Aneldi. “Net voordat sy oorlede is, het hulle KPR probeer, maar haar lyfie kon dit nie meer verduur nie. Haar organe het begin ingee en toe … was my dogtertjie weg.”
Aneldi verduidelik dat die familie Jana wil onthou op ’n manier wat werklik weerspieël wie sy was. “Ons wil nie hê mense moet swart na die begrafnis toe dra nie. Ons wil hê hulle moet helder, kleurryke klere dra, net soos Jana altyd gedra het.”
Jana en haar balletjuffrou, Elna. Foto verskaf
Sy sê sedert Jana oorlede is, is sy oorweldig deur die liefde en omgee vir haar dogter. “Ek het besef hoeveel mense haar liefgehad het. Sy het so ’n omgeehart gehad en met soveel vriendelikheid geleef. Ek sal haar drukkies die meeste mis.”
Jana, ’n leerder aan die Primêre Skool Willem Postma, se dood laat ook ’n diep impak op die skoolgemeenskap van Bloemfontein.
Volgens Bambi Pre-Primêr, Jana se vorige skool, was sy ’n vrolike en lewenslustige dogtertjie met ’n groot omgeehart wat elke dag gestraal het. “Haar teenwoordigheid het vreugde gebring waar sy ook al gegaan het. Sy het elke oomblik voluit geleef en ’n blywende indruk op almal rondom haar gemaak.
“Haar helder liggie sal altyd voortleef in ons hart en herinneringe,” skryf die skool op Facebook.
Jana was ook die afgelope twee jaar ’n leerder aan die Elna van der Walt-balletskool.
“Jana was ’n gelukkige meisie,” vertel Van der Walt. “Sy het altyd ingekom, na my toe gehardloop en my ’n drukkie gegee. Sy was altyd so opgewonde om ballet toe te kom. Sy was ’n karakter op haar eie, met ’n groot persoonlikheid.”
Elna sê Dinsdag (27/5) was die eerste keer dat Jana haar balletklas vanjaar misgeloop het, en “jy kon dit net in die lug voel dat sy nie daar was nie”.
Jana word Woensdag om 11:00 vanuit die Baptistekerk in Langenhovenpark begrawe.