Central SA
Man weer in hof weens R12 miljoen se onwettige sigarette─── TSHEHLA KOTELI 10:09 Tue, 25 Jul 2023
Die saak teen Joseph Kuselwa (44) van Zimbabwe is tot Donderdag uitgestel.
Amanda Funani, polisiewoordvoerder van Noordwes, sê Kuselwa het in die landdroshof in Lehurutshe verskyn en sal Donderdag formeel om borgtog aansoek doen. Hy is Vrydag (21/7) deur die provinsiale teenkorrupsie-eenheid in hegtenis geneem vir die smokkel van sigarette ter waarde van R12 miljoen.
“Volgens inligting wat ontvang is, het die vragmotorbestuurder van Botswana Suid-Afrika omstreeks 06:40 tydens beurtkrag by die Skilpadshek-grenspos binnegekom,” sê Funani.
Vragmotors mag nie die land binnekom of verlaat tydens beurtkrag nie omdat die rekenaars vanlyn is. ’n Polisielid wat die grens gepatrolleer het, het gesien hoe die vragmotor die grenspos verlaat en na Zeerust ry. Hy het sy bevelvoerder gekontak en die vragmotor is voorgekeer voordat dit Zeerust bereik het.
LEES OOK: Man weens miljoene se onwettige sigarette vandag in hof in Noordwes
"Die bestuurder is beveel om terug te ry na die Skilpadshek-grenspos. Die Suid-Afrikaanse Inkomstediens en doeaneamptenare het die vragmotor deurgesoek en bokse sigarette – ter waarde van R12 868 509 – ontdek. Hy het versuim om die sigarette te verklaar," sê sy. Die polisielid wat die vragmotor met die sigarette toegang tot Suid-Afrika gegee het, word ook ondersoek. Aanklagte van dwarsboming van die gereg kan by die klagstaat gevoeg word wanneer die ondersoek afgehandel is.
Sello Kwena, provinsiale polisiekommissaris, het Noordwes se teenkorrupsie-ondersoekeenheid gelukgewens met hul goeie werk. Hy sê korrupte polisielede sal nie geduld word nie en geregtigheid sal geskied. Die saak is aan die Valke in Noordwes oorhandig vir verdere ondersoek.
