Central SA
ANC veroordeel moord op 14-jarige oor dagga─── HEIDRÈ MALGAS 12:37 Mon, 07 Aug 2023
Die ANC in die Noord-Kaap veroordeel die moord op Theo Diteho nadat hy na bewering deur die ANC-takvoorsitter in die ZD Mgcawu-distriksmunisipaliteit aan die brand gesteek is.
Deshi Ngxanga van die ANC sê Elvin Sikhepe (39) en twee medebeskuldigdes is in hegtenis geneem en aangekla van moord en ontvoering.
Theo Diteho was 'n gr. 6-leerder aan die Oranje Oewer Intermediêre Skool in Upington.
"Die ANC het met ’n proses begin vir die onmiddellike skorsing van sy takvoorsitter en met die bedoeling om hom so gou moontlik uit te sluit," sê hy.

Die 14-jarige Theo Diteho was in die Oranje Oewer Intermediêre Skool in Upington. Foto: Facebook
OFM Nuus het vroeër berig die beskuldigdes het Dinsdagaand (1/8) na bewering by die slagoffer se huis aangekom en geëis hy gee dagga terug wat hy glo gesteel het. Die slagoffer het eers ontken hy het die dagga gesteel, maar Sikepe het glo gedreig om hom en sy vriende dood te maak omdat hy sy dagga gevat het.
Premier Zamani Saul, ANC-streekleiers in ZF Mgcawu onder wie Abraham Vosloo, voorsitter, en David Kazi, sekretaris, asook Venus Blennies, die ANC-jeugliga se provinsiale voorsitter, en lede van die Vroueliga het die naweek Diteho se gesin besoek.

Theo Diteho is in Pabalello, Upington, vermoor omdat hy na bewering dagga gesteel het. Foto: Facebook
Die beskuldigdes sal 10 Augustus vir borgtoginligting en moontlike borgtogaansoeke in die landdroshof in Upington verskyn.
