On Now
Weekdays 00:00 - 05:00
Early Mornings OFM
Show Background
NEXT: 05:00 - 06:00 The Agri Hour with Michael
Listen Live Streams

Central SA

Seun van Bloemfontein glimlag dapper ná sportongeluk

───   KAREN VAN DER BERG 13:49 Fri, 15 Sep 2023

Seun van Bloemfontein glimlag dapper ná sportongeluk | News Article
Jayden Delport. Foto verskaf

Daar lê ook nog ’n lang pad voor van plaatjies dra en rekonstruksie sodra hy ’n bietjie ouer is.

“ ’n Mens weet enige sport kom met sy beserings, maar dis regtig sleg wanneer jou kind baie seerkry.”

Só sê Carolize Delport, wie se seun, Jayden Delport (9), ’n gr. 3-leerling aan die Laerskool Willem Postma, verskeie van sy tande in ’n ongeluk tydens ’n hokkiewedstryd verloor het toe dit uitgeslaan is. Hulle is daarom dankbaar vir al die ondersteuning wat hulle in dié tyd ontvang.


Carolize sê hulle was verlede Saterdag (9/9) by ’n hokkiedag in Bloemfontein, en Jayden was in sy eerste wedstryd toe die ongeluk gebeur en hy met ’n hokkiestok in die mond getref word.

Hy het klompie tande verloor, onder andere vier permanente tande. Hy moes dadelik geopereer word. Daar lê nog ’n lang pad voor van plaatjies dra en rekonstruksie sodra hy ’n bietjie ouer is.

Die plan vir 14 Oktober is om duisend T-hemde in vrolike kleure te knoop-en-doop. Foto verskaf

“Die pyn was aanvanklik baie erg, maar dit gaan nou al beter. Hy is die dapper een en praat ons gedurig moed in,” sê sy. 

Jayden sou eers volgende kwartaal teruggegaan het skool toe. Maar hy het die skool intussen besoek en die kinders en onderwysers se liefde en deernis is so groot dat hy kans sien om binnekort weer op die skoolbanke te sit.

“Ons is baie dankbaar vir al die ondersteuning wat ons van die skool, vriende, familie en die gemeenskap kry. Dit beteken vir ons verskriklik baie.”

Intussen is ingespring om te begin geld insamel vir Jayden en sy toekomstige mediese uitgawes.

Jayden Delport voor die ongeluk. Foto verskaf

Margret van Zyl Botha, wat ’n middagstudie bedryf en ook ’n ouer van Willem Postma is, het dadelik ’n groot byeenkoms in samewerking met The Pace Foundation begin reël. Sy daag alle skole in Bloemfontein uit om te kom deel hierin. Dit kon enigiemand se kind gewees het, sê sy.

’n Groot byeenkoms vind op Saterdag 14 Oktober op Willem Postma se sportveld plaas. Die plan is om duisend T-hemde in vrolike kleure te knoop-en-doop. Deelnemers betaal R100 en bring hul eie wit hemp om te verf.

OFM Nuus/Karen van der Berg

@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.