On Now
Weekdays 12:00 - 15:00
At Lunch Pulane
Show Background
NEXT: 15:00 - 18:00 The Joyride with Nico, Nikki and JayBee
Listen Live Streams

Central SA

Hoë kospryse bly ‘n bekommernis

───   HEIDRÈ MALGAS 16:25 Tue, 19 Sep 2023

Hoë kospryse bly ‘n bekommernis | News Article
Hoë voedselpryse bly ’n uitdaging vir verbruikers.

“Baie voel dat hulle nie die dalende pryse in hul kosmandjie sien nie, en ander voel dat iemand in die waardeketting wins maak ten koste van die verbruikers.”

Ekonome verwag die inflasiekoers vir Augustus, wat môre bekend gemaak word, sal effens hoër wees as in Julie. Na verwagting sal dit 4,8% of 4,9% wees. 

Waldo Krugell, ’n ekonoom aan die Noordwes-Universiteit se Sakeskool, verduidelik die swak rand, stygings in brandstofpryse, Eskom se tariefverhogings en hoë vlakke van beurtkrag knou verbruikers.

Hy sê wanneer die rand-dollar-wisselkoers verswak, verhoog die koste van ingevoerde produkte. Dit geld veral vir brandstof wanneer die internasionale olieprys styg en die rand verswak.

Wanneer brandstofpryse styg, het dit ’n invloed op ander produkte se pryse. Boere betaal byvoorbeeld meer vir diesel, en ondernemings se vervoerkoste styg. Ondernemings moet dan hul pryse verhoog, wat dan lei tot stygende inflasie.

Hy sê dit kos geld om die ligte aan te hou, of dit nou deur sonpanele of kragopwekkers is. Baie ondernemings maak gebruik van kragopwekkers, en wanneer die dieselprys styg, word dit duurder. 'n Gedeelte van hierdie ekstra koste syfer eindelik deur na die verbruiker in die vorm van prysverhogings.

Eskom se tariewe het ook ’n invloed, want ondernemings moet dan hul pryse verhoog om hierdie koste te bestry, wat beteken die inflasiekoers styg.

"Hoë kospryse raak almal. Hoewel voedselinflasie onlangs afgeneem het, bly dit 'n uitdaging vir verbruikers. Baie voel dat hulle nie die dalende pryse in hul kosmandjie sien nie, en ander voel dat iemand in die waardeketting wins maak ten koste van die verbruikers. 

“Vir albei hierdie standpunte is daar antwoorde, maar dit maak kos steeds nie goedkoper nie," sê Krugell.

OFM Nuus/Heidrè Malgas

@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.