On Now
Weekdays 09:00 - 12:00
Mid-Morning Magic Yolanda
NEXT: 12:00 - 15:00 At Lunch with Pulane
Listen Live Streams

Agriculture

Styging in dieselpryse verydel hoop vir verminderde druk op winsmarges

───   ELSABÉ RICHARD 08:00 Wed, 13 Sep 2023

Styging in dieselpryse verydel hoop vir verminderde druk op winsmarges | News Article
FOTO: Skitterphoto/Pexels.

Die onlangse skerp styging in brandstofpryse het die hoop op verminderde druk op winsmarges verydel.

Die toename in dieselpryse, tesame met stygende internasionale brent-ruoliepryse en 'n swakker randwisselkoers, dra by tot kostedruk regdeur die landbouwaardeketting.

Paul Makube, landbou-ekonoom by FNB, sê die stygings is veral kommerwekkend aangesien dit plaasvind aan die begin van die nuwe somergewasseisoen.

Hy sê dat die graanbedryf, wat ‘n verligting in kunsmispryse beleef het, nou hoër plantkoste in die gesig staar, terwyl die vee- en tuinbousektore staatmaak op brandstof vir vervoer.

Volgens 'n berig geskryf deur Farmers Review Africa sukkel boere in ontwikkelende lande om landbouproduksieprosesse aan te dryf namate brandstofpryse die hoogte inskiet.

Sedert die Rusland-Oekraïne-konflik in Februarie 2022 begin het, het die wêreld op 'n konstante basis nie net hoë brandstofpryse ervaar nie, maar ook hoë kunsmispryse.

Al hierdie faktore het negatief bygedra tot boere se winsmarges.

Beurtkrag en inflasie

"Met beurtkrag wat nou fase ses bereik, sal boere gedwing word om kragopwekkers vir lang tydperke te laat loop om koelstore in stand te hou. 

"Hoër brandstofpryse kan verbruikersinflasie vererger, wat pas weer binne die Suid-Afrikaanse Reserwebank se teikenbestek van 3% tot 6% was. Dit kan die tydperk van verhoogde rentekoerse verleng. 

"Verhoogde skulddienskoste vir boere was 'n beperking vir potensiële landbouproduksie-uitbreiding. Streng winsmarges sal die produsente en verwerkers se vermoë beperk om verdere kostedruk te absorbeer," sê Makube.

Oktober-vooruitsigte

Dieselpryse mag dalk weer in Oktober styg indien Brent-ruoliepryse onder meer hoog bly. Makube sê dit sal weer eens boere swaar tref, aangesien hulle grootliks afhanklik is van diesel om goedere te vervoer.

OFM Nuus/Elsabé Richard-May

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.