Central SA
Philippolis vier twee eeue met klank en kleur─── ELSABÉ DE JAGER 12:32 Thu, 21 Sep 2023

“Dis hier waar bure nog vriende is. ’n Plek waar jy nie net jou eie hartklop kan hoor nie, maar ook die hartklop van eeue gelede.”
Hierdie keer het die grootpad suidlangs my nie soos gewoonlik Kaap toe gelei nie. Kort duskant Trompsburg het ek links gedraai, oor die brug en deur die dorp tot op die R717 wat my vir 60 km lank die ware betekenis van ’n slaggat laat leer ken het.
Ek was verlig toe die naambord Philippolis uiteindelik langs die pad verskyn. Die poorte van nie slegs een van die oudste dorpe in die Vrystaat nie, maar ook die plek met die meeste nasionale monumente in dié provinsie, het my deurgelaat vir een van die kosbaarste kuiers ooit.
Die logo, oral te sien, kondig met kleurvolle simboliek Philippolis se 200ste verjaarsdag aaan wat in Oktober gevier word. Matjieshuise gee erkenning aan die vroeë inheemse inwoners: San, Griekwa, Khoi, Sotho en Xhosa.
Aan die bopunt van Voortrekkerstraat hou die kerkgebou wag oor die dorp. Foto: Morné van Rooyen
Die kerkgebou verwys na die sendingkerk en die Afrikaanse en Engelse inwoners ná 1861. Die grootpad tussen die Kaapkolonie en die Vrystaatse Republiek word aangedui met ’n paadjie deur die dorp.
Die helder vuurwerke wat getuig van die trots op 200 jaar se gemeenskapsontwikkeling, laat my uitsien na dit waarvoor ek hier is, om met inwoners te gesels oor die lewe op hul dorp.
Soos in die meeste kleiner plekke, staan die 154 jaar oue kerkgebou geanker in die middel van die dorp. Die laatmiddagson klim op teen die voorkant van die toring en verlig momenteel die skaduwee wat beurtkrag ook oor dié klein dorpie gooi.
Lettie de Wee en Rebecca Mbulawa, gebore op Philippolis, verruil hul dorp vir geen ander nie. Foto verskaf
’n Paar tree verder, sonder enige vertoon, staan die Jobhuis net regs van Voortrekkerstraat. Met sy 25 kontemporêre skilderye, geskep deur die kunstenaar Rina Coetzee, neem dié klein galery jou op ’n kontakreis vol innerlike vrede na jouself en jou emosies.
Ek ry verby die Transgariep-museum en die biblioteek, sy aan sy in die hoofstraat. Ek sien in my verbeelding hoe die stories vanaf die geboutjie vol geskiedenis gestalte kry in woorde op die rakke van die ou Victoriaanse huis langsaan.
Ook die voormalige dorpstronk vertel sy eie storie, Nadat dit vanaf 1872 vir 70 jaar as gevangenis gedien het, word dit in ’n polisiekantoor verander. Van 1972 tot 1982 gebruik die Suid-Afrikaanse Weermag dit as barakke. Sedert 1998 is die gebou ’n gastehuis.
Een van die oudste dorpe in die Vrystaat. Foto: Morné van Rooyen
Ek parkeer oorkant die dorpshotel en staan vir ’n oomblik in die straat en gesels met ’n oorsese gas. “Lovely friendly people. Amazing Old Town atmosphere. Safe parking behind a locked gate.”
Vroegaand op die stoep van die gastehuis dink ek aan die twee skeepskanonne, gemonteer op voetstukke bo-op die koppie, wakend oor die dorp. Ek dink aan die raak beskrywing van iemand oor die dorp: “Dis hier waar bure nog vriende is. ’n Plek waar jy nie net jou eie hartklop kan hoor nie, maar ook die hartklop van eeue gelede.” Vir my ’n stilhouplek en vriende maak vir die volgende twee dae, ’n hawe waar hekke en slotte eintlik onnodig is.
Ek dink aan die sterre geteken op die feeslogo van die dorp, deur die inwoners genoem hul hemelprag, en ek sien uit na die kuiers saam met oom Attie en oom Jannie, gebore en gebly hier in die Groot Karoo. Ek dink aan die inkommers Nicolene, James en Werner wat vir my gaan vertel van huis en haard wat deesdae Philippolis is. En ek is opgewonde oor die terugkommers Annelie en Louis se stories oor huis toe kom.
Die dorpshotel is steeds ’n gewilde kuierplek oor naweke. Foto verskaf
Lees in die aanloop tot die feesnaweek oor oom Jannie en sy saagmusiek, praatjies met die boere, Annelie van Pitstop, koffie op Emily’s se stoep en ’n internasionale pianis. Bly ook ingeskakel op OFM Nuus vir gereelde berigte oor Philippolis se kleurryke mense.