On Now
Weekends 05:00 - 06:00
Opstaan OFM
Show Background
NEXT: 06:00 - 09:00 Weekend Breakfast with Olebogeng
Listen Live Streams

Central SA

Finale betoë verwag in moordsaak van Noordwes-sakeman

───   KEKELETSO MOSEBETSI 11:27 Tue, 03 Oct 2023

Finale betoë verwag in moordsaak van Noordwes-sakeman | News Article
Sibongiseni Ngubane het in die Rustenburgse Landdroshof verskyn. Foto: Veli Nhlapo/The Sowetan

Die veiligheid van die beskuldigde is geopper aangesien die drie ander verdagtes op die vlug geslaan het en sy lewe in gevaar kan stel.

Die verdediging van ’n gewoontemisdadiger wat teregstaan op drie verskillende sake sal na verwagting vandag die slotbetoog lewer in sy borgverhoor in Rustenburg se landdroshof.

Sibongiseni Ngubane (33) word daarvan aangekla dat hy die sakeman Ben Gumbi vermoor het. Hy staan ook tereg op aanklagte van gewapende roof, waarin borgtog van R3 000 aan hom toegestaan is. Daar is nog ’n saak van die besit van ’n vuurwapen en ammunisie in Alberton, waar borgtog van R1 000 aan hom toegestaan is.

Die hof het die borgverhoor in die moordsaak toegestaan ná ’n aansoek van die verdediging, terwyl die saak tot 5 Oktober vir slotbetoë uitgestel is.

Henry Mamothame, woorvoerder van die Nasionale Vervolgingsgesag in Noordwes, sê die beskuldigde het gister in die hof standpunt ingeneem en getuig dat hy sy inkomste as Uber-bestuurder sal verloor indien hy nie borgtog kry nie. Hy glo ook nie sy lewe is in gevaar as hy op borgtog vrygelaat word nie. 

Ben Gumbi se moord is op kamera vasgelê. Foto: Skermgreep 

In kruisondervraging het die staat hom gevra hoekom hy ’n gesteelde voertuig, wat later verlate gevind is, gebruik het pleks van sy geregistreerde Uber-voertuig, aangesien hy beweer het hy is pas gehuur om mense na Rustenburg te vervoer. Mamothame sê die beskuldigde is ook ondervra oor die R15 000 wat hy beweer sy betaling vir die vervoerdiens was.

“Die staat sal sterk teen die toestaan van borgtog argumenteer ná oorleg met die ondersoekbeampte. Die ondersoekbeampte het voor die heropening van die borgtogverhoor die hof versoek om die erns van die oortreding te oorweeg, aangesien hy aangekla is van 'n skedule 6-misdryf van moord met voorbedagte rade. 

Hy verwys na die veiligheid van die beskuldigde teen drie ander verdagtes wat op die vlug geslaan het en sy lewe in gevaar kan stel.

Die beskuldigde is ook op ’n uitkenningsparade deur verskeie getuies uitgewys. Die staat het melding gemaak van die publiek se belangstelling in die saak ná die verspreiding van 'n opname van die voorval op sosiale media. Die staat het die hof versoek om die grusame wyse waarop die beweerde moord gepleeg is, in ag te neem.

OFM Nuus/Kekeletso Mosebetsi


@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.