Central SA
Hartbeesfontein-moord: Saak teen 2 verdagtes uitgestel─── ZENANDE MPAME 12:38 Wed, 13 Dec 2023
“Die polisie het tydens die inhegtenisname verskeie gesteelde items teruggevind wat die twee met die moord op Marilize Bosman verbind het.”
Die twee beskuldigdes wat van die moord op ’n weduwee van Hartbeesfontein in Noordwes aangekla word, sal in aanhouding bly tot hul volgende hofverskyning op 13 Februarie.
Phillip Djan (48) en Pascal Senayah (39) het Dinsdag (12/12) vlugtig in die landdroshof verskyn waar hulle ook teregstaan op drie aanklagte van huisroof. Die saak is vir verdere ondersoek uitgestel.
‘Djan en Senayah word verbind met nog twee huisrooftogte’
“Daar word op ’n besluit gewag van die direkteur van openbare vervolgings oor of die saak na ’n hoër hof oorgeplaas moet word,” het Henry Mamothame, NVG-woordvoerder, gesê.
Die twee mans is op 28 November in Morekweng in hegtenis geneem nadat inligting opgevolg is wat die polisie na hul huis gelei het. Djan en Senayah word verbind met nog twee huisrooftogte wat op 24 November op Hartbeesfontein aangemeld is.

Marilize Bosman. Foto: Facebook
Marilize Bosman (39) is in haar slaapkamer geskiet toe sy haar dogter teen die indringers wou beskerm. Paramedici het haar op die toneel dood verklaar.
Sy is op 30 November in Klerksdorp ter ruste gelê. Haar 15-jarige dogter was een van die kisdraers.
OFM News/Zenande Mpame dg/cg/mc
