On Now
Weekdays 18:00 - 19:00
OFM Business Hour Olebogeng
Show Background
NEXT: 19:00 - 22:00 OFM Nights with Ashmund
Listen Live Streams

Central SA

DA wil weet oor nuwe grense vir Noordwes-munisipaliteite

───   15:56 Mon, 15 Jan 2024

DA wil weet oor nuwe grense vir Noordwes-munisipaliteite | News Article
Die DA wil die rekords wat gelei het tot die raad se besluit om die verdeling uit te stel, ondersoek.

Die voorgestelde verdeling van die JB Marks-munisipaliteit in Potchefstroom en Ventersdorp is vir eers uitgestel.

Die DA in die JB Marks-munisipaliteit het ’n versoek in terme van die Wet op Toegang tot Inligting aan die Munisipale Afbakeningsraad gerig, nadat die raad onlangs besluit het om die voorgestelde verdeling van die JB Marks-munisipaliteit in Tlokwe (Potchefstroom) en Ventersdorp vir eers op die ys te plaas.

“Die DA wil verseker daar is totale verantwoordbaarheid in die proses aangesien die besluit om hierdie munisipaliteite saam te voeg, ernstig nadelige nagevolge vir albei gemeenskappe inhou,” sê DA-raadslid Hans-Jurie Moolman. Hulle wil die rekords ondersoek wat gelei het tot die raad se besluit om die verdeling uit te stel. 

Thabo Manyoni, raadsvoorsitter, sê hulle het meer tyd nodig. “Daar is eerstens nie voldoende inligting beskikbaar om ’n finale en volhoubare besluit te neem nie en tweedens is verdere navorsing en konsultasies met die betrokke gemeenskappe nodig.”  

“Dit beteken die raad het nog nie ’n finale besluit geneem of die munisipale grense in die voormalige Tlokwe- en Ventersdorp-munisipaliteit herbepaal gaan word nie.”

Die raad het ’n jaar gelede die proses begin om die munisipale grense tussen Tlokwe en Ventersdorp te herbepaal. Die jaar langer proses het formele ondersoeke sowel as openbare vergaderings oor die voorgestelde herbepaling van die munisipale grense behels.

Die twee munisipaliteite is ondanks teenkanting kort voor die plaaslike regeringsverkiesing in 2016 saamgevoeg. 

“Ondanks advies om bestuursondersteuning vanaf distriksvlak aan Ventersdorp te bied om sy volhoubaarheid te herstel en dienslewering aan inwoners te verbeter, het die teenoorgestelde gebeur. Bestuur is tans gesentraliseer en die afstand tussen Potchefstroom en Ventersdorp het ’n nadelige uitwerking op dienslewering aan die gemeenskap van Ventersdorp,” sê Moolman.

“Dit is belangrik dat ons deeglik toesig hou oor hierdie afbakening om nog ’n rampspoedige besluit deur die afbakeningsraad te vermy. Die besluit om die munisipaliteite aanvanklik saam te voeg, het verwoestende gevolge vir albei gemeenskappe ingehou, en die DA sal verseker dat geen steen onaangeroer gelaat sal word om die besluit om te keer nie.”

OFM Nuus/Christine van der Westhuizen cg

@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.