Central SA
Jong mans tydens klopjag by onwettige inisiasieskool in Noordwes gered─── 08:50 Sat, 09 Mar 2024

“Die erns van onwettige inisiasieskole is ’n nasionale krisis.”
Noordwes se departement van samewerkende regering, menslike nedersettings en tradisionele sake het aangedui dat 26 jong mans by ’n onwettige inisiasieskool 15 km buite Ottosdal gered is. Daar is Vrydagoggend op die skool toegeslaan en dit is gesluit.
Die klopjag is na bewering uitgevoer deur 'n gesamentlike operasie tussen Cogta, die Provinsiale Inisiasiekoördineringskomitee (PICC) en die polisie.
Die skool is reeds sowat twee weke operasioneel en volgens inligting sou dié sessie teen Paasnaweek voltooi wees.
Volgens die woordvoerder Dineo Thapelo het sommige van die mans onmiddellik mediese aandag nodig gehad en hulle is ondersoek.
Thapelo het gesê altesaam elf van hulle is na klinieke en hospitale verwys, een na die Ottosdal-gesondheidsentrum, ses na die Tshepong-hospitaal in Klerksdorp, terwyl vier ander na die Gelukspan-hospitaal verwys is.
‘Ek het dus ouers versoek om waaksaam te wees ’
Andries Stemmer, PICC-ondervoorsitter wat die klopjag gelei het, het aangedui dat die inisiasieskool onwettig is. Hulle het ’n wenk ontvang dat die skool sonder ’n permit funksioneer.
“Mense minag die wet en veiligheid van ons kinders. Daar is prosedures wat gevolg moet word om ’n inisiasieskool goed te keur en deur die departement te laat registreer. Ek het dus ouers versoek om waaksaam te wees aangesien baie jong mans die risiko loop om ontvoer te word,” het Stemmer gesê.
Die Huis van Tradisionele Leiers in Noordwes, en Khoi-San-leier Kgosi Thari Maotwe het die erns van onwettige inisiasieskole beklemtoon en dit as ’n nasionale krisis bestempel.
OFM Nuus het verneem dat die skoolhoof in hegtenis geneem is nadat ’n saak van oortreding van die Wet op Gebruiklike Inisiasie by die Ottosdal-polisiekantoor geopen is.
Polisiewoordvoerder Amanda Funani moet nog op OFM Nuus se navraag antwoord.