Central SA
Gifdood: Man van Hennenman het nie permitte vir eksotiese diere gehad─── KAREN VAN DER BERG 12:14 Fri, 12 Apr 2024
“Daar is nie in Suid-Afrika teengif vir dié slange nie en dit hou ’n groot risiko in om hulle aan te hou.”
Die stof wil net nie gaan lê nie oor die bisarre selfmoord van ’n jong man van Hennenman in die Vrystaat, Marius Joubert (28), wat hom deur verskeie giftige slange laat pik het. Hy het mediese hulp geweier en is dood.
Joubert het tydens die Paasnaweek sy eie lewe geneem toe hy sy hande in twee slanghokke gedruk het. Die voorval het intussen wye reaksie uitgelok en het sosiale media aan die gons.
Joubert het vir ’n veiligheidsmaatskappy op Hennenman gewerk. Die polisie het hom einde Maart in hegtenis geneem in verband met ’n inbraak en diefstal wat in Julie verlede jaar plaasgevind het. Hy was in aanhouding en het vir die ondersoekbeampte gesê hy sal vir hulle gesteelde goedere by sy huis gaan uitwys. Dit was met die uitwysings dat hy sy hande in die slanghokke gedruk het.
Meer as 70 soort inheemse, uitheemse en eksotiese diere is in sy huis gevind.
Judy Davidson, eienaar van die South African Wildlife Rehabilitation Centre in Springs, wat van die eksotiese diere uit Joubert se huis verwyder het, sê daar is geen permitte vir enige van die diere op rekord vir Joubert nie. “Hy het die diere onwettig aangehou.”
Sy sê mense wat eksotiese diere wil aanhou, kan by verskillende provinsiale kantore aansoek doen. “Hy sou moes aansoek doen vir sekere diere wat hy aangehou het. Nie alle eksotiese diere nie, maar sommiges.”
Dit is veral die erg giftige en uitheemse slange wat ’n permit moet hê. “Daar is nie in Suid-Afrika teengif vir dié slange nie en dit hou ’n groot risiko in om hulle aan te hou. Dit word hoegenaamd nie aanbeveel om hulle aan te hou nie.”
‘Om ’n gesonde dier aan te hou is sinneloos en wreed’
Sy sê die koste vir Joubert om al daardie diere aan te hou, sou astronomies hoog gewees het. “Dit sou hom regtig ’n fortuin gekos het om al daardie diere te voer.”
Davidson wil ’n dringende beroep op mense doen om diere in hulle huise in hokke aan te hou. “Die beste plek vir ons inheemse diere is om buite in die natuur te wees, deel van hulle lewensiklus. Om ’n gesonde dier aan te hou is sinneloos en wreed.”

Sowat 70 eksotiese diere is in haglike omstandighede in Joubert se huis aangehou. Foto verskaf
Sy voel ook so oor eksotiese diere. “Hulle moet in hulle eie land wees. Nie in ’n vreemde land in ’n hok nie. Dit is nie reg nie.”
Die diere in Joubert se huis was in haglike omstandighede aangehou en hulle was almal in uiterse swak toestande gevind. Daar is bronne wat beweer hy was dalk bang dat hy met die onwettige diere betrap sou word.
Kapt. Stephen Thakeng, Vrystaatse polisiewoordvoerder, sê hy is bewus dat die storie groot reaksie uitlok en baie vrae meebring. Die polisie ondersoek die voorval en sal so gou as moontlik meer inligting kan gee.
Vir nou hou hulle by die bestaande inligting oor Joubert.
“Joubert was in hand- en voetboeie toe hy na sy huis geneem is op 29 Maart om die uitwysings te gaan doen. Sy hande is losgemaak. Hy het onverwags sy hande in twee slanghokke gedruk.”
“Hy het ook eeers enige behandeling geweier. Maar ’n ambulans het hom opgetel en na die Katleho-hospitaal geneem,” het Thakeng gesê. Hy is later na die Bongani-hospitaal in Welkom oorgeplaas, waar hy beswyk het.

