On Now
Weekends 09:00 - 12:00
The Central SA Top 30 Pulane
NEXT: 12:00 - 16:00 Saterdag Siësta with Laurika
Listen Live Streams

Central SA

Munisipaliteit beloof Parys-inwoners skoon, drinkbare water

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 12:51 Mon, 27 May 2024

Munisipaliteit beloof Parys-inwoners skoon, drinkbare water | News Article
Inwoners van Parys sukkel met waterprobleme. Foto: iStock

“’n Protesoptog is Donderdag op Parys gehou toe inwoners hul frustrasie met die waterprobleme op Parys en in Tumahole en Schonkenville te kenne gegee het.”

’n Samewerkingsooreenkoms is tussen die Ngwathe-munisipaliteit en verskillende partye bereik oor die erns van die waterprobleme op Parys en in omliggende gemeenskappe.

Die Ngwathe, AfriForum, Save Ngwathe, die Metsi Pompong-waterinisiatief en die Departement van Water en Sanitasie het Vrydag (24/5) onder meer ooreengekom om saam te werk en hulle toe te spits op die lewering van veilige drinkwater aan die inwoners as ’n saak van dringendheid.

AfriForum het ook ingestem om in sekere van sy hangende regsgedinge met die munisipaliteit te skik, sê Morné Mostert, bestuurder van plaaslikeregeringsake. ’n Protesoptog is Donderdag (23/5) op Parys gehou toe inwoners hul frustrasie met die waterprobleme op Parys en in Tumahole en Schonkenville te kenne gegee het.

In ’n ingenieursverslag, wat in opdrag van die burgerregteorganisasie opgestel is oor die toestand van die Parys-watersuiweringsaanleg, word uitgestippel onbehandelde rivierwater word by dié aanleg sonder enige basiese waterbehandeling regstreeks in die dorp se waternetwerk gepomp. 

Volgens Mostert toon dit ook dat die uiteenlopende basiese instandhoudingswerk nie aan die aanleg gedoen word nie, dat die aanleg swak bestuur word en dat nuwe infrastruktuur wat geïnstalleer is, reeds foutief is.

‘Prokureurs sal met onderhandelinge rakende die skikking begin’

Die organisasie het aangedui dat hy gereed is om voort te gaan met regstappe indien samewerking sou misluk. Die vergadering is afgesluit met die nuwe munisipale bestuurder, dr. FP Mothamaha, wat die uitnodiging om samewerking verwelkom het.

AfriForum se prokureurs sal nou met onderhandelinge rakende die skikking begin. “Die uitkoms van dié vergadering is ’n wen in die belang van die Parys-, Tumahole- en Schonkenville-gemeenskap en skep nou die ruimte vir samewerking tussen die owerheid en gemeenskappe om saam aan die oplossing te werk.

‘Ons sal nie ophou werk totdat hierdie oorwinning behaal is nie’

“Die ware oorwinning sal egter kom wanneer inwoners weer sonder huiwering of vrees die water uit Parys se krane kan drink. Ons sal nie ophou werk totdat hierdie oorwinning behaal is nie.” AfriForum se ingenieursverslag wat aan die munisipale bestuurder oorhandig is, sal nou as vertrekpunt van die partye se samewerking in die herstel van die watersuiweringsaanleg dien.

Steve Naale, woordvoerder by die munisipaliteit, het nie op navrae geantwoord nie.

OFM Nuus dg

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.