On Now
Weekends 06:00 - 09:00
Weekend Breakfast Gerben and Anny
NEXT: 09:00 - 12:00 The Central SA Top 30 with Pulane
Listen Live Streams

Central SA

Rivierwater glo direk in Parys se krane gepomp

───   14:26 Thu, 23 May 2024

Rivierwater glo direk in Parys se krane gepomp | News Article
Foto: AfriForum

“Onbehandelde rivierwater sonder enige basiese waterbehandeling word direk in die dorp se waternetwerk gepomp.”

Die water in inwoners van Parys se krane vloei glo direk en onbehandeld van die rivier na die krane.

’n Ingenieursverslag wat oor die toestand van die Parys-watersuiweringsaanleg opgestel is, toon onbehandelde rivierwater word by dié aanleg, sonder enige basiese waterbehandeling, direk in die dorp se waternetwerk gepomp. 

Dit wys ook die uiteenlopende basiese instandhoudingswerk word nie op die aanleg gedoen nie, dat die aanleg swak bestuur word en dat nuwe infrastruktuur wat geïnstalleer is, reeds foutief is, sê Morné Mostert, AfriForum se bestuurder van plaaslikeregeringsake.

Ontstoke inwoners het Donderdag (23/5) na die Ngwathe-munisipaliteit se kantoor op Parys opgeruk. Foto: AfriForum

Dit is slegs een van die vele bevindinge wat gemaak is, nadat AfriForum op 9 Mei die watersuiweringsaanleg besoek het. 

AfriForum, sowel as die gemeenskapsorganisasies Save Ngwathe, Metsi Pongpong, én ontstoke inwoners van Parys, Tumahole en Schonkenville het Donderdag (23/5) na die Ngwathe-munisipaliteit se kantoor op Parys opgeruk. 

Mostert sê die onvermoë van die munisipaliteit om veilige drinkwater aan die nagenoeg 50 000 inwoners van Parys, Tumahole en Schonkenville te lewer, het die situasie op dié Noord-Vrystaatse dorp laat oorkook. 

Die ingenieursverslag en ’n memorandum waarin hul eise vir die dringende oplossing van die nypende waterkrisis op Parys en in die omliggende nedersettings uiteengesit word, is tydens die protesaksie aan dr. F.P. Mothamaha, die munisipale bestuurder, oorhandig. 

Ontstoke inwoners het ’n memorandum tydens die protesaksie aan die munisipale bestuurder oorhandig. Foto: AfriForum

Mothamaha, AfriForum, Save Ngwathe, Metsi Pongpong en verteenwoordigers van die Departement van Water en Sanitasie (DWS) gaan Vrydagoggend (24/5) die probleme en moontlike oplossings bespreek.

Die organisasies eis dringende ingryping by die munisipaliteit se watersuiweringsaanleg weens die swak bestuur en die gebrekkige installering van infrastruktuur en toerusting daar. 

Hulle eis ook toegang tot die watersuiweringsaanleg vir die gemeenskap en spesialiste sodat aanbevelings gemaak kan word oor wetlike voorvereistes; dat AfriForum se ingenieurs betrokke is by die oorsig, bestuur en uitvoering van projekte by die waterwerke. 

’n Inwoner op pad na die Ngwathe-munisipaliteit se kantoor. Foto: AfriForum

AfriForum eis dat sy ingenieurs, op die organisasie se onkoste, opleiding aan alle personeel van die watersuiweringsaanleg bied; en dat die gemeenskap weekliks oor die watergehalte ingelig word. 

Boonop eis die betrokkenes ook dat die gemeenskap onmiddellik in kennis gestel word wanneer gevind word dat water wat deur die aanleg versprei word, ongeskik is vir menslike gebruik en dat die nodige regstellende stappe geneem sal word. 

Nog ’n eis is ’n beheerkomitee met verteenwoordigers van die munisipaliteit, AfriForum, Save Ngwathe, Metsi Pongpong, die provinsiale DWS en die Vrystaatse premier vir die instandhouding van die watersuiweringsaanleg, sowel as die bestuur en opgradering daarvan, te fasiliteer. 

“Die swak gehalte van watersuiwering op Parys hou ernstige gesondheidsrisiko’s in. Ten spyte van dié risiko’s kon AfriForum geen enkele kennisgewing opspoor waarin die munisipaliteit die gemeenskap waarsku dat die water wat uit hul krane vloei, nie geskik is vir menslike gebruik nie. 

AfriForum, Save Ngwathe, Metsi Pongpong, én ontstoke inwoners van Parys, Tumahole en Schonkenville. Foto: AfriForum

“Almal word benadeel deur die munisipaliteit se gebrekkige bestuur. En terwyl hooggeplaastes in die munisipaliteit dit kan bekostig om toegang tot hierdie basiese mensereg te koop, is die armste lede in die gemeenskap dors en uitgelewer aan die genade van ’n owerheid van sy rug op sy mense gekeer het,” sê Mostert.

“Vandag is egter ’n wekroep vir die munisipaliteit, want hierdie gemeenskap se dors na skoon drinkwater laat hul nou saamstaan en opstaan vir hul smagting na geregtigheid.”

OFM Nuus mvh

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.