Central SA
Noordwes, Vrystaat soek van die meeste hulp weens geslagsgeweld─── CHARNÉ VAN DER MERWE 12:00 Wed, 28 Aug 2024

"Die tydsberekening van die oproepe impliseer dat slagoffers meer geneig is om tydens kantoorure uit te reik"
Inwoners van Noordwes en die Vrystaat het die afgelope vier jaar proporsioneel die naasmeeste en derde meeste oproepe gemaak na ’n hulplyn vir slagoffers van geslagsgeweld.
Amptelike misdaadstatistieke dui op ’n landwye afname in geslagsgeweld, maar kenners sê derduisende slagoffers se hulpkrete wys die polisie se syfers weerspieël hoegenaamd nie die werklikheid nie.
Uit ’n verslag deur die Tears Foundation, in samewerking met die Universiteit van Johannesburg (UJ), blyk dit geslagsgeweld is nou meer as ooit ’n pandemie in Suid-Afrika met geen einde in sig nie. Die stigting meen sy presiese statistieke kan help om dié pandemie beter hok te slaan deur “beter, responsiewe en toepaslike ingrypings, hulpbronne en beleid te ontwikkel,” sê Mara Glennie, stigter van Tears Foundation.
Geslagsgeweld in Suid-Afrika neem toe. Foto: Calan DVS
“Sulke data wys waar om hulpbronne in te span en watter soort ondersteuning benodig word, terwyl dit ook ’n belangrike moniterings- en evalueringsfunksie vervul om die doeltreffendheid van ingrypings te bepaal.”
Die werklike getal gevalle van geslagsgeweld neem in werklikheid nie af nie, lui die verslag – dis net dat minder sake by die owerheid aangemeld word.
Minder as 7% van geslagsgeweldsake word aangemeld, meen prof. Corné Davis, medeprofessor in die departement strategiese kommunikasie in die UJ se fakulteit geesteswetenskappe. Sy skryf dit toe aan onder meer vrees vir die oortreder, finansiële afhanklikheid, wantroue in die owerheid, gebrek aan hulpbronne soos mediese geriewe, vervoer en tegnologie, en die stigma wat kleef aan geslagsgeweld.Slagoffers is bang om sake aanhangig te maak. Foto: Abuse Women.
Die Tears Foundation het die Help by Your Fingertips-hulplyn in 2013 ingestel wat onmiddellike en gratis ondersteuning bied aan slagoffers van verkragting en seksuele misbruik. Die data in die onlangse verslag is gegrond op oproepe daarheen tussen Januarie 2020 en Desember 2023.
Volgens die navorsers het 53 004 slagoffers van geslagsgeweld die hulplyn van Januarie 2020 tot Desember 2023 gebel. Die besigste tyd (15 521 oproepe) was in 2020 tydens die streng Covid-19-inperking. Hierdie syfer sluit onvolledige oproepe en oproepe uit van individue wat anoniem wou bly, aangesien dit nie akkuraat vasgelê kon word nie.
Die meeste mense het in November, Desember en September ingebel: onderskeidelik 9 078, 8 325 en 7 029. Wat dae betref, was Sondae die besigste (8 541), gevolg deur Dinsdae (8 524) en Maandae (8 332). Die gereeldste tyd vir oproepe was tussen 12:00 en 13:00, toe altesaam 4 250 oproepe ingekom het.
Sondae word die meeste oproepe na die hulplyn gemaak. Foto: Women in Sectional Title
Oproepe in vier jaar (per 100 000 van die bevolking):
- Limpopo: 6 804 (104)
- Noordwes: 3 934 (103)
- Vrystaat: 2 920 (99)
- Mpumalamga: 4 701 (97)
- Gauteng: 14 072 (93)
- KwaZulu-Natal: 8 403 (68)
- Noord-Kaap: 794 (59)
- Oos-Kaap: 3 710 (52)
- Wes-Kaap: 3 759 (51)
Verdere ondersoek is nodig is om te verstaan waarom die meeste oproepe in November, Desember en September gemaak is, aangesien hierdie maande nie ooreenstem met voorheen veronderstelde risikotydperke soos skoolvakansies en openbare vakansiedae nie.
Geslagsgeweld kom meestal oor naweke voor. Foto: iStock
Die oproepe toon geslagsgeweld kom meer algemeen oor naweke voor. Die tydsberekening van die oproepe impliseer dat slagoffers meer geneig is om tydens kantoorure uit te reik.
President Cyril Ramaphosa het onlangs die Wetsontwerp op die Nasionale Raad op Geslagsgeweld en Vrouemoord aangekondig,” sê Glennie. “Suid-Afrika kan geslagsgeweld en vrouemoord net bekamp deur dit te voorkom en daarop te reageer.”
Davis sê die stryd teen geslagsgeweld is lewensbelangrik; optrede kan nie langer uitgestel word nie.
Stryd teen geslagsgweld is lewensbelangrik. Foto: Gender Base is real
Davis verduidelik die wanbalans in magsverhoudinge binne gesinne en gemeenskappe dra aansienlik by tot geslagsgeweld. “Hoewel mans sowel as vroue onder geslagsgeweld deurloop, word vroue om verskeie redes buite verhouding geteiken.”
Volgens Glennie toon navorsing ook dat geslagsgeweld slagoffers se werkprestasie en ’n maatskappy se winsgewendheid nadelig kan beïnvloed. Daarom doen die Tears Foundation ’n beroep op sakeleiers om standpunt in te neem teen geslagsongelykheid in die werkplek.
OFM Nuus/Charne van der Merwe dg