On Now
Weekends 12:00 - 16:00
Classic Sundays Christie
NEXT: 16:00 - 19:00 All Request Sunday with Nikki
Listen Live Streams

Central SA

Onwettige Noordwes-immigrant agter tralies weens duisende se veediefstal

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 12:00 Sun, 04 May 2025

Onwettige Noordwes-immigrant agter tralies weens duisende se veediefstal | News Article
Die gesteelde vee. Foto verskaf

’n Onwettige immigrant van Lesotho bly in aanhouding en sal weer op 21 Mei in die hof verskyn weens besit van vermoedelik gesteelde beeste van duisende rande.

Tshepang Motseretsere Sepinara (22) het Vrydag (2/5) in die Swartruggens-landdroshof verskyn weens die besit van vyf Bonsmaras ter waarde van R100 000, sê kol. Adéle Myburgh, polisiewoordvoerder.

“Sepinara se hofverskyning volg op sy inhegtenisneming op Woensdag (30/5) in Swartruggens. Dit het gekom nadat inligting die polisie na die Derdepoort T-aansluiting gelei het, waar lede van die Madikwe en Phokeng Veediefstal- en Bedreigde Spesies (STES) eenhede op Sepinara toegeslaan het tydens ’n beheerde koop-en-vang-operasie. Die Bonsmara-kalwers is toe ontdek.”

Die gesteelde Bonsmaras. Foto verskaf

Volgens Myburgh is die kalwers positief geïdentifiseer deur middel van brandmerke en terugbesorg aan die regmatige eienaar.

Aanmeldingstelsel vir veediefstal

Die Rooivleisprodusenteorganisasie (RPO) en ander landbouorganisasies werk saam met die polisie en Agri Ops om veediefstal te bekamp deur middel van ’n nasionale aanmeldingstelsel vir veediefstal.

Die Earth Ranger-platform hanteer en verwerk inligting wat verskaf word om te verseker dat alle besonderhede van deelnemende boere vertroulik gehou word in ooreenstemming met die Wet op die Beskerming van Persoonlike Inligting, sê dr. Frikkie Maré, uitvoerende hoof van die RPO.

Hoewel die platform sonder die polisie bedryf word, werk die RPO nou saam met die polisie vir die uitvoering daarvan.

Hoe werk die KI-stelsel?

Agt stappe word tydens aanmelding uitgevoer, waarvan die eerste vyf verpligtend is:

Wie: Verskaf jou naam en kontakbesonderhede.

Provinsie: Dui aan in watter provinsie die voorval plaasgevind het.

Distrik: Verstrek die distrik se naam.

Polisie: Meld dit by jou naaste polisiekantoor aan.

Wat: Beskryf die tipe veediefstal en ander belangrike besonderhede.

Die volgende drie stappe is die GPS-ligging waar die voorval plaasgevind het, spesifieke besonderhede oor hoe die diefstal uitgevoer is en enige ander tersaaklike inligting.

Die RPO beklemtoon dat hierdie stelsel nie net help om veediefstal vinniger aan te meld nie, dit skep ook ’n waardevolle databasis vir wetstoepassingsagentskappe. Die doel is om die polisie te ondersteun in hul ondersoeke en om misdaadtendense beter te verstaan.

Boere en inwoners kan enige veediefstal of verwante misdaad onmiddellik per WhatsApp by 071 5152011 aanmeld.

OFM Nuus cg

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.